Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-08-31 Reporter: Willem Jordaan, Philda Essop

Mbeki 'Swyg Soos Sfinks' Oor Zuma

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-08-31

Reporter

Willem Jordaan, Philda Essop

Web Link

www.news24.com/Die_Burger

 

Kaapstad. - Pres. Thabo Mbeki het gisteraand op 'n staatsbesoek na Maleisië gevlieg sonder om 'n woord te rep oor die storm wat om die kop van adj.pres. Jacob Zuma woed.

Op sy beurt het Zuma na Kuba vertrek vir 'n konferensie oor die VN se konvensie om woestynvorming te bestry. Albei se ampsbesoek duur tot Woensdag.

In drie dae van interaksie met plaaslike gemeenskappe as deel van sy Wes-Kaapse imbizo het Mbeki niks gesê oor die bewerings van korrupsie en die herhaalde oproepe deur politieke partye vir sy adjunk se bedanking nie.

Hy het gesê hy is in die Wes-Kaap om met mense op grondvlak te praat, nie om die bewerings teen Zuma te bespreek nie.

Intussen het die DA Mbeki weer skerp gekritiseer oor sy stilte. "Sy sfinks-agtige houding oor die kwessie bevorder nie vertroue in die presidensie of goeie regering nie," het mev. Sheila Camerer, DA-woordvoerder oor justisie, gesê.

"Mbeki hoop kennelik dat die Zuma-probleem sal verdwyn as hy dit ignoreer. Dit gaan nie gebeur nie."

Mnr. Tony Leon, DA-leier, het gesê te midde van die opspraakwekkende bewerings teen Zuma is dit maklik om die kern van die saak mis te kyk: "Gewone Suid-Afrikaners se lyding duur voort terwyl die ANC-elite hulself verryk."

Leon het gesê skuld is een van die grootste probleme in Suid-Afrika. "Volgens die Skerpioene was dit ook 'n probleem vir Zuma.

"Hy betaal aan skuld van meer as R30 000 per maand. Wanneer gewone mense agterstallig raak met skuld, is daar ernstige gevolge - jou telefoon en elektrisiteit word afgesny, daar word beslag gelê op jou motor, meubels of huis, en jou water hou op loop.

"Dít is die beleid wat die ANC op munisipale vlak afdwing. Maar vir die ANC-elite is skuld nie 'n probleem nie. Mnr. Schabir Shaikh het glo Zuma se reusagtige lenings help afbetaal, en in ruil daarvoor het die adjunkpresident hom glo met sy sakebelange gehelp."

Met erkenning aan Willem Jordaan, Philda Essop en Die Burger.