Skerpioene Dagvaar Shaikh oor Wapentransaksies |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-07-19 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Die Skerpioene het in die hooggeregshof grondwetlike goedkeuring gekry om mnr. Schabir Shaikh, eertydse raadgewer van adj.pres. Jacob Zuma, te ondervra oor die wapenskandaal.
Regter Ron McLaren het beslis dat een van dié magte deurslaggewend is vir die Skerpioene se werk kragtens art. 28 (6) van die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag, en dat dit die toets van grondwetlikheid deurstaan. Ingevolge dié bepaling word verdagtes gedwing om vrae van die Skerpioene te beantwoord, selfs as dit hulle betrek. Die inligting mag nie later in die hof teen die ondervraagde gebruik word nie.
Dit is die eerste keer dat die grondwetlikheid van art. 28 (6) in 'n hof getoets is.
Sluheid is só kenmerkend van korrupsie dat buitengewone magte nodig is om dit uit te roei, het McLaren gesê.
Die publiek het volgens hom die reg om te weet of daar korrupsie was met die aankoop van R43 miljard se wapentuig vir die weermag.
Shaikh staan reeds tereg op aanklag van diefstal van 'n vertroulike kabinetsnotule waarin die wapenpakket bespreek word. Volgens die Skerpioene is Shaikh ingevolge art. 28 (6) as deel van die breë ondersoek na die wapenpakket gedagvaar, omdat hy die enigste een is wat lig kan werp op sekere aspekte.
In die kollig is 'n reeks vergaderings, waarop Shaikh, Zuma en verteenwoordigers van die Franse maatskappy Thomson CSF glo teenwoordig was. Thomson CSF is deel van die Europese konsortium wat die kontrak vir die vloot se nuwe korvette gekry het, terwyl Shaikh se maatskappy betrokke is by die verskaffing van dié skepe se wapenstelsels.
Shaikh het in sy aansoek aangevoer die opskorting van sy swygreg is ongrondwetlik en benadeel sy kanse op 'n regverdige verhoor.
Mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het gesê dié uitspraak verleen nuwe stukrag aan die Skerpioene se werk. Die Skerpioene is volgens hom van plan om so gou moontlik 'n nuwe datum te reël vir Shaikh se ondervraging.
Mnr. Parsee Reeves, Shaikh se prokureur, het gistermiddag gesê hulle sal die naweek besluit of hulle appelleer.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en Die Burger.