Skerpioene |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-08-05 |
Reporter |
Kommentaar Verslaggewer |
Web Link |
Daar is 'n Chinese spreekwoord wat lui: Dit maak nie saak of 'n kat wit of swart is nie, solank hy maar muise vang. Wanneer dit puntjie by paaltjie kom, maak dit nie soveel saak of die Skerpioene, soos tans, onder die beheer van die direkteur van nasionale vervolgings of onder dié van die hoof van die polisie staan nie, solank hulle maar misdadigers vang.
Pres. Thabo Mbeki het onlangs hardop die vraag gestel of die Skerpioene dalk eerder deel van die polisie moet wees. En 'n mens kan maar weet: As die president so 'n balletjie opgooi, is die besluit op die minste amper geneem, as dit nie klaar 'n voldonge feit in sy kop is nie.
Die probleem is nie soseer die verskuiwing nie; daar is sekerlik 'n goeie saak vir albei moontlikhede uit te maak. Die probleem is die ongelooflik slegte tydsberekening.
Die Skerpioene - en meer bepaald hul hoof, adv. Bulelani Ngcuka - staan op die oomblik in die spervuur weens die klipharde ondersoek na beweerde korrupsie insake die strategiese wapenaankoop-pakket vir die weermag. Afgesien daarvan dat die regerende ANC geen gelukkige geskiedenis het oor dié saak nie, hang dit tans ook saam met 'n onsmaaklike openbare moddergooiery en magstryd tussen Ngcuka en adj.pres. Jacob Zuma.
Mbeki se openbare vraag sou dus in beginsel vertolk kon word as 'n poging om die Skerpioene se angel te pluk om die interne magstryd in die ANC te besleg, en dalk ook om te keer dat te veel oopgevlek word. En dit is ontoelaatbaar in enige demokrasie.
Wat ook al besluit word, die Skerpioene was tot dusver doeltreffend in die oopvlek van korrupsie en witboordjie-misdaad, sowel in die private as in die openbare sektor. Die eenheid mag nie die slagoffer word van individue se haat vir mekaar of van enigiemand se onwilligheid om politieke magsmisbruik aan die kaak te laat stel nie.
Met erkenning aan Die Burger.