Skerpioene Word Dalk Deel Van Polisie, sê Mbeki |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-07-29 |
Reporter |
Barnie Louw |
Web Link |
Kaapstad. - Pres. Thabo Mbeki het gister erken hy moes onlangs ingryp om spanning tussen die polisie en die Skerpioene te ontlont.
Dié "inherente institusionele spanning" tussen die Skerpioene en die polisie beteken egter nie dat die Skerpioene ontbind gaan word nie. Dit kan wel beteken dat die Skerpioene moontlik deel van die polisie kan word, het Mbeki gesê.
"Ons kan nie twee polisiedienste hê nie," het hy gesê.
Mbeki het op 'n nuuskonferensie oor verlede week se kabinetsberaad gesê hy het al talle vergaderings gehad met komm. Jackie Selebi, nasionale polisiehoof, en adv. Bulelani Ngcuka, direkteur van openbare vervolging, oor dié spanning. Die spanning is nie tussen Selebi en Ncguka nie, het hy gesê.
Volgens Mbeki is die ontbinding van die Skerpioene buite die kwessie omdat die funksie en spesialisering wat van dié elite-taakmag verwag word, nie verdwyn het nie.
"Onder wie se beheer hulle moet val en hoe om die verhouding tussen die twee (die Skerpioene en die polisie) te bestuur, is wel 'n kwessie. Dit was van die begin af duidelik daar sou spanning wees," het Mbeki gesê.
Hy het gesê een moontlike oplossing vir die spanning is dat die Skerpioene 'n gespesialiseerde polisie-eenheid word. Dít sal egter verskeie unieke probleme inhou.
Deel van die probleem lê by die verdeling van werk tussen die twee instansies, wat soms lei tot parallelle ondersoeke, het Mbeki gesê. Ook val 'n eenheid wat in wese 'n polisie-eenheid is, onder beheer van die nasionale vervolgingsgesag.
Hy het gesê hy is soms verbaas deur die soort ondersoeke wat die Skerpioene doen - ondersoeke wat hy meen deur die polisie behartig moet word.
Met erkenning aan Barnie Louw en Die Burger.