Smeerveldtog Dalk Teen Ngcuka? |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-09-09 |
Reporter |
Willem Jordaan |
Web Link |
Kaapstad - Bewerings dat die ANC adv. Bulelani Ngcuka as 'n apartheidspioen verdink het, lyk na 'n smeerveldtog teen die direkteur van openbare vervolging.
Só meen mnr. George Fivaz wat ten tyde van Ngcuka se aanstelling die nasionale polisiehoof was.
Die Burger het Fivaz om kommentaar genader nadat City Press bespiegel het dat Ngcuka in die jare tagtig deur die ANC ondersoek is en dat die organisasie in 'n intelligensieverslag bevind het daar bestaan redelike gronde om Ngcuka te verdink as 'n agent wat ANC-inligting aan die polisie verskaf het.
Mnr. Mac Maharaj, voormalige minister van vervoer, het agterna gesê hy het self dié verslag onder oë gehad en dat pres. Thabo Mbeki waarskynlik nie goed genoeg ingelig is voordat hy Ngcuka aangestel het nie.
Volgens Fivaz was hy as polisiehoof ten nouste betrokke by die herstrukturering van die veiligheidstak van die polisie, en Ngcuka se naam het nooit as 'n eertydse informant ter sprake gekom nie.
"As daar destyds inligting was dat Ngcuka vir die veiligheidstak gewerk het, sou ek daarvan geweet het," het Fivaz gesê.
"Ek het 'n baie goeie idee van wie wel vir die veiligheidstak gewerk het, maar Ngcuka se naam het nooit ter sprake gekom nie. Dit lyk vir my na 'n smeerveldtog teen Ngcuka noudat hy sy nek uitgesteek het."
Fivaz het gesê hy het nog altyd groot respek vir Ngcuka gehad.
Volgens hom is die brandende vraag waarom Maharaj, wat ten tyde van Ngcuka se aanstelling 'n minister was, nie die inligting bekend gemaak het en die kabinet daaroor ingelig het voordat Ngcuka aangestel is nie.
Maharaj het egter gesê hy gaan nie op Fivaz reageer tensy hy 'n skriftelike verklaring doen nie.
Oor Ngcuka se planne om regstappe weens naamskending teen City Press en Maharaj te doen, het Maharaj gesê hy staan by sy uitlatings en dat daar 'n saak teen Ngcuka is waarop hy nou sal moet antwoord.
Teen gister het Maharaj se bewerings reeds rimpelings deur die ANC gestuur. ANC-hooggeplaastes wat nie genoem wou word nie, het gesê " 'n bewering dat 'n comrade 'n eertydse apartheidspioen was, is die grootste belediging denkbaar".
"Enigiemand wat sulke bewerings maak, moet sy of haar feite kan staaf, want só 'n bewering word beslis nie ligtelik opgeneem nie," het 'n bekende in die ANC gesê.
Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.