Fakie Sal Taai Vrae Moet Antwoord |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-08-18 |
Reporter |
Anesca Smith |
Web Link |
Kaapstad - 'n Taai vraesessie van drie uur oor die wapentransaksie lê Woensdagoggend vir die ouditeur-generaal, mnr. Shauket Fakie, in die parlement voor.
"Hy moet geen sweetheart-vrae van die ANC verwag nie," het 'n ANC-lid van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), mnr. Vincent Smith, gesê.
Fakie se kantoor het in 2001 'n ondersoek na die wapentransaksie gelei. Hy het intussen egter self in die spervuur beland oor bewerings dat belangrike inligting uit die finale wapenverslag gelaat is. Skoor se ondersoek na die bewerings begin Woensdag.
Smith, wat vandeesweek as waarnemende voorsitter van Skoor gedien het, het gesê elkeen van die komitee se 16 lede gaan 10 minute kry om vrae aan Fakie te stel. Die vergadering sal oop wees vir die media en belanghebbendes.
Volgens Smith sal hulle ná die sitting besluit of Fakie weer voor die komitee moet verskyn. "Die komitee sluit nie Woensdag sy ondersoek af nie. Dit is nog lank nie oor nie.
"Een van die vanselfsprekende vrae sal wees of hy (Fakie) die verslag geredigeer het. Indien wel, sal ons wil weet hoekom dit gedoen is en of hy deur enige iemand gedwing is."
Smith voorspel dat bewerings dat Skoor deur verdedigingsamptenare mislei is, ook aandag sal geniet.
Nog mense wat betrokke was by die wapentransaksie kan straks later voor Skoor geroep word.
Smith het gesê die departement van handel en nywerheid sal dalk duidelikheid moet verskaf oor sowat 65 000 werkgeleenthede wat uit die wapentransaksie sou voortvloei, maar tans nog net 'n belofte is.
Die departement van verdediging sal op sy beurt dalk opnuut sy beleid rondom botsende belange aan die komitee moet kom verduidelik.
Met erkenning aan Anesca Smith en Die Burger.