Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-06-10 Reporter: Ronel Bester

Sakeman Stel Lastereis Van R250 000 Teen Shaikh In

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-06-10

Reporter

Ronel Bester

Web Link

www.dieburger.co.za

 

Kaapstad. -Te midde van die stofstorm wat weer opgewarrel het oor die regering se wapentransaksie, het een van die sentrale figure in die twis gister in die hooggeregshof hier skadevergoeding geëis weens beweerde laster.

Dr. Richard Young, ‘n Kaapse sakeman en direkteur van ‘n maatskappy wat destyds meegeding het om van die winsgewende wapenkontrakte, het die hof gevra om skadevergoeding van R250 000 aan hom toe te staan.

Young eis dié bedrag van mnr. Yunis Shaikh (foto), broer van mnr. Chippy Shaikh, voorheen die regering se hoofwapenaanskaffer wat te midde van die omstredenheid oor die wapentransaksie bedank het.

Luidens Young se hofstukke het Yunis Shaikh, ‘n prokureur wat werk vir die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie, tydens ‘n televisie onderhoud in November 2001 op die program 3rd Degree onder meer gesê Young het met ‘n lasterlike smeerveldtog begin nadat sy onderneming nie die kontrak gekry het nie.

Shaik het gesê Young misbruik die "liggelowige media", dat die media Young se "leuens" aanvaar het en dat die Shaikh-familie gevolglik verneder en uitgebeeld is as ‘n "klomp skurke".

Young het gister getuig daar was geen smeerveldtog nie, dat die media hom telkens genader het en hy regverdige en eerlike kommentaar gegee het. In sy hofstukke erken Shaikh dat hy die stellings gemaak het en dat dit nie binne die grense van regverdige kommentaar was nie. Hy vra ook hierin vir Young onvoorwaardelik om verskoning.

Adv. Rashid Vahed SC, vir Shaikh, het aan Young gesê sy kliënt aanvaar dat dít wat hy gesê het, nie korrek, behoorlik of regverdig was nie. Vahed het gesê dit was nie Shaikh se bedoeling om Young te belaster nie.

Shaikh het getuig hy het tydens die onderhoud beheer verloor. Vahad het gesê Shaikh se verskoning is voldoende en dat die hof nie ‘n bykomende bedrag vir skadevergoeding behoort toe te staan nie.

Adv. Eduard Fagan, vir Young, het gesê die televisieprogram is twee keer uitgesaai en kon 800 000 of meer kykers bereik het. Hy het gesê Shaikh se verskoning is slegs in hofstukke vervat en is nooit, soos die lasterlike stellings, wyd gepubliseer nie.

Fagan het gesê Young is geregtig op sy integriteit, om as ‘n eerlike persoon beskou te word en dat daar geen basis vir Shaikh se stellings was nie.

Volgens Fagan is ‘n bedrag van R250 000 nie onrealisties nie.

Regter Hennie Nel het uitspraak voorbehou.

Met erkenning aan Ronel Bester en Die Burger.