Adjunk se 'Tjeks Soms Geweier' |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-08-28 |
Reporter |
Barnie Louw |
Web Link |
Kaapstad - 'n Sakeman van KwaZulu-Natal het adj.pres. Jacob Zuma uit geldelike moeilikheid gehelp toe hy borg gestaan het vir 'n banklening om Zuma se "tradisionele residensiële dorpie" van R1,3 miljoen by Nkandla te help betaal.
Dié bewering is vervat in die klagstaat teen Zuma se finansiële raadgewer, mnr. Schabir Shaikh. Dit bevat ook besonderhede van hoe Zuma met "buitensporige uitgawes" by tye tot R37 000 per maand bo sy persoonlike vermoë geleef en tjeks uitgeskryf het wat deur die bank geweier is.
Shaikh en maatskappye waarin hy belange het, staan tereg op aanklagte van onder meer korrupsie, bedrog, diefstal en geldwassery.
Luidens die klagstaat het mnr. Vivian Reddy, 'n aandeelhouer in Monte Casino by Newcastle en grootbaas van die Edison-groep, twee betalings van R50 000 elk namens Zuma gemaak aan die konstruksiemaatskappy wat die dorpie gebou het. Zuma is 'n gewese LUR vir ekonomiese sake en toerisme in KwaZulu-Natal.
Nog R900 000 is betaal met 'n banklening van Eerste Nasionale Bank, waarvoor Reddy borg van R400 000 geteken het. Hy het ook 'n aftrekorder geteken vir maandelikse paaiemente van R12 000 om die lening terug te betaal.
Met erkenning aan Barnie Louw en Die Burger.