Mbeki Bly Steeds Tjoepstil Oor Adjunkpresident |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-08-29 |
Reporter |
Willem Jordaan, Mandy Rossouw |
Web Link |
Kaapstad - Op die vierde dag van swye oor die storm wat woed om die kop van adj.pres. Jacob Zuma, het pres. Thabo Mbeki gister laat blyk hy gaan niks sê oor die bewerings van korrupsie teen sy adjunk nie.
Die regering se stilte is slegs verbreek deur 'n verklaring van een van sy vertrouelinge en die hoof van die regering se kommunikasiediens, mnr. Joel Netshitenzhe.
In dié eerste amptelike regeringsreaksie sedert die bewerings teen Zuma in 'n klagstaat teen sy finansiële adviseur aan die lig gekom het, het die regering - ondanks verdeeldheid in eie geledere oor wat Zuma te doen staan - sy rug styf gemaak teen eise dat Zuma bedank.
Dié standpunt volg nadat die ANC ook gesê het Zuma sal nie bedank nie, maar nietemin laat blyk het die situasie is "ongemaklik vir die land". Netshitenzhe het gesê dit sou verkeerd wees as Zuma gedwing word om te bedank.
Volgens hom is dit 'n kwessie van "kultuur en vertroue". Hy meen dit sou 'n gevaarlike presedent en verkeerde kultuur skep as regeringslui weens blote bewerings moes sneuwel. Vertroue is ook ter sprake omdat die adjunkpresident se woord aanvaar moet word.
Wat betref die "geskenke" wat Zuma na bewering ontvang het, het Netshi- tenzhe gesê dit is die taak van die hof om die bewerings te toets.
Indien hy geskenke ontvang het, sal 'n parlementêre ondersoek moet vasstel of dit verklaar is.
Mbeki het gister op die ANC-vroueliga se nasionale konferensie die eerste keer sedert die bewerings oor Zuma se betrokkenheid by die wapenaankope openbaar gemaak is, die publiek toegespreek. Oor Zuma het hy egter geswyg en volgens sy woordvoerder, mnr. Bheki Khumalo, sal die president waarskynlik niks daaroor sê nie.
Mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder van die Skerpioene, kon nie sê of Zuma gevra sal word om in die saak teen mnr. Schabir Shaikh te getuig nie.
Volgens Ngwema moet die span aanklaers hieroor besluit.
Die Skerpioene se dokumente oor die geskenke wat Zuma na bewering ontvang het, is intussen by die parlement ingedien, berig Cobus Grobler .
Daar is teenoor Die Burger bevestig dat die dokumente deur parlementêre regsadviseurs nagegaan word.
Mnr. Luwellyn Landers, voorsitter van die komitee oor etiek en ledebelange, het gister gesê hy het nog geen inligting oor die dokumente ontvang nie. Sodra dit na sy komitee verwys is, sal 'n ondersoek gedoen word na of Zuma die etiese kode vir LP's verbreek het.
Die speaker, dr. Frene Ginwala, is uitstedig en sal eers Maandag aan die saak aandag gee.
Met erkenning aan Willem Jordaan, Mandy Rossouw en Die Burger.