Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-06-27 Reporter: Jan-Jan Joubert

Verenig vir Vernuwing, vra Mbeki

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-06-27

Reporter

Jan-Jan Joubert

Web Link

www.dieburger.co.za

 

Pretoria. - Pres. Thabo Mbeki het gister alle Suid-Afrikaners opgeroep om as 'n nie-rassige eenheid die ideale van die Vryheidsmanifes, wat die basis van ANC-beleid is, te bevorder.

Die Vryheidsmanifes is op 26 Junie 1955 op 'n massa-byeenkoms in Kliptown, Soweto, aanvaar, en die staatshoof wy sy weeklikse bydrae tot die ANC se internetnuusbrief, ANC Today, aan die huidige relevansie van die Vryheidsmanifes.

Mbeki het die uitleef van dié ideale van die ANC gekoppel aan die debat oor die rol van ras en rassisme in die politiek, wat die afgelope tien dae woed sedert hy en mnr. Tony Leon, DA-leier, mekaar in die parlementêre debat oor die presidensiële begroting daaroor getakel het.

"Ons geskiedenis sou kon veronderstel dat omvattende rassespanning en vyandigheid die land sal kenmerk. Dit veronderstel dat ons 'n bitter meerderheid moet hê wat aangevuur word deur intense haat en wraak, en 'n bevreesde minderheid wat gereed staan om hulle teen dié horde te verdedig," skryf hy.

Mbeki benadruk dat wit minderhede in Afrika telkens die vasteland verlaat het wanneer state onafhanklik geraak het. Sommige, soos dié uit Zimbabwe, het na Suid-Afrika as bastion van wit minderheidsregering getrek.

Ten spyte hiervan, gaan Mbeki voort, is die Vryheidsmanifes as ANC-grondslag nie-rassig, hoewel min wit mense aan die vryheidstryd deelgeneem het.

"Die opstellers van die Vryheidsmanifes kon geskryf het dat wit mense die see ingejaag moes word, dat die lyne getrek is, dat wraak geneem moes word, maar hulle het die alternatiewe roete van die Vryheidsmanifes gekies," skryf hy.

Volgens Mbeki het die ANC sedert 1994 al die moontlike gedoen om die Vryheidsmanifes uit te leef, en is dít die rede waarom die rassekruitvat nie ontplof het nie.

Ten spyte hiervan meen die staatshoof die ANC het misluk omdat alle Suid-Afrikaners, swart en wit, nog nie die Vryheidsmanifes onderskryf nie.

Volgens hom gaan die stryd voort om wit mense te mobiliseer om skouer aan skouer met hul swart broers en suster vir die heropbou, ontwikkeling en transformasie van die land te veg, soos in die Vryheidsmanifes voorsien is.

Gesamentlike, veelrassige optrede om die land te transformeer sal volgens Mbeki die onderskeid tussen "ons" en "hulle" uitwis.

Met erkenning aan Jan-Jan Joubert en Die Burger.