Osprey Aviation Agent in Vliegtuigtransaksie |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-07-02 |
Reporter |
Erika Gibson |
Web Link |
Pretoria - Die naam van BAE Systems se "agent" in Suid-Afrika in die Hawk-vliegtuigtransaksie van miljarde rande is gisteraand onthul as Osprey Aviation, 'n lugvaartspesialismaatskappy in Johannesburg.
Mnr. Phil Soucy, woordvoerder van BAE Systems, het gisteraand uit Londen gesê sy maatskappy het besluit om ter wille van deursigtigheid en perspektief die naam bekend te maak.
Dit kom nadat "wilde gerugte" oor miljarde rande aan kommissie die afgelope twee dae die ronde gedoen het.
Volgens Soucy is die gerugte oor die omvang van die kommissie absurd.
Die betaling aan Osprey Aviation is op professionele skale geskoei en "heeltemal aanvaarbaar". Mnr. Richard Charter is die hoof van Osprey.
Die Britse parlement het vandeesweek die betaling van die kommissie deur BAE Systems in die Hawk-vegopleidingsvliegtuigtransaksie bevestig, maar nie die bedrag nie.
Volgens Soucy het sy maatskappy Charter gekontranteer om van 1994 op te tree as sy kommersiële raadgewer. Voorheen was daar reeds bande tussen die twee maatskappye, deurdat Osprey gehelp het met die bemarking van BAE Systems se private stralers.
"In die aanloop tot die wapenonderhandelings wou ons 'n plaaslike vennoot kontrakteer om ons te help om Suid-Afrikaanse prosedures oor tenders en aanskaffing te verstaan.
"Voor 1994 was BAE Systems nié in Suid-Afrika betrokke nie weens die wapen-embargo.
"Ons het 'n vennoot gesoek sonder regerings- of militêre bande.
"Dit is ons gebruik om 'n agtenswaardige 'agent' aan te stel wanneer ons in 'n onbekende land 'n nuwe mark wil ontgin."
Volgens Soucy het Charter selfs BAE Systems gehelp om kantoorruimte te bekom.
"Ons het deurentyd die Britse en die Suid-Afrikaanse owerheid in kennis gestel dat Osprey ons vennoot is.
"Niemand het enige besware daarteen geopper nie."
Volgens hom is Charter 'n rustende vennoot, aangesien die grootste gedeelte van die aanknoping- en onderhandelingswerk afgehandel is.
"Osprey sal aanhou om kommissie te ontvang totdat die laaste vliegtuig (teen 2007) gelewer is - ingeval ons sy dienste nodig het.
"BAE Systems staan by sy belofte dat dit by geen onderduimshede of onreëlmatighede met die Hawk-kontrak betrokke was nie en verwerp enige bewerings in dié verband met minagting."
Na verneem word, was Charter etlike jare gelede betrokke by die ontwikkeling en vervaardiging van valskerms vir die weermag. Osprey Aviation handhaaf al jare noue bande met Brittanje.
Met erkenning aan Erika Gibson en Die Burger.