Shaikh wil Skerpioene se Vrae Halt |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-06-27 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban - Die Skerpioene probeer uitvis wat sy verdediging gaan wees in 'n hofsaak wat met die wapenskandaal verband hou, voer mnr. Schabir Shaikh aan in 'n aansoek in die hooggeregshof oor die grondwetlikheid van 'n dagvaarding vir ondervraging.
Shaikh, direkteur van 'n maatskappy wat betrokke is by die verskaffing van die wapenstelsels vir die vloot se nuwe korvette, is tot dusver die enigste persoon wat strafregtelik vervolg word in verband met die wapenskandaal.
Hy is in November verlede jaar aangekla van die diefstal van 'n vertroulike dokument nadat die Skerpioene drie maande tevore gelas is om beweerde korrupsie en bedrog met die aankoop van R43 miljard se wapentuig vir die weermag te ondersoek.
Shaikh doen voor regter Ron McLaren in die Durbanse hooggeregshof aansoek dat art. 28 (6) van die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag, wat voorsiening maak vir die ondervraging van 'n verdagte tydens 'n ondersoek, ongrondwetlik verklaar word.
Adv. Nirmal Singh SC, vir Shaikh, het gister aangevoer die Skerpioene sal kan uitvis wat die beskuldigde se verweer sal wees.
In só 'n ondervraging word Shaikh sy swygreg ontneem as die antwoord hom sou inkrimineer.
Adv. Marumo Moerane SC, het egter daarop gewys dat inligting wat in die ondervraging bekom word, nie teen die ondervraagde in 'n latere hofsaak gebruik mag word nie.
Uitspraak is voorbehou.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en Die Burger.