Wapenagent sê met dié Som Sou Hy Aftree |
Publication | Rapport |
Date | 2003-07-06 |
Reporter |
Pieter Malan |
Web Link |
Die Britse vliegtuigvervaardiger BAE Systems se agent in Suid-Afrika, mnr. Richard Charter, sê hy was beslis nie ‘n middelman vir die betaling van omkoopgeld aan Suid-Afrikaanse politici en verdedigingsamptenare nie.
Charter, die man in die middel van ‘n storm wat die afgelope week in die Britse parlement losgebars het oor die sakepraktyke van BAe Systems, sê die aantygings en insinuasies teen sy maatskappy, Osprey Aerospace, is "absurd" en van alle waarheid ontbloot.
Die jongste storm in die voortslepende wapenskandaal-sage het sy oorsprong in ‘n vraag in die Britse parlement die afgelope week deur ‘n Walliese parlementslid, Simon Thomas, oor kommissie wat die Britse maatskappy BAE Systems betaal het in die tenderproses vir die Hawk-vliegtuie wat die Suid-Afrikanase regering gekoop het.
Patricia Hewitt, Britse minister van handel, sê agentekommissie is wel betaal, maar haar departement het ‘n ondersoek na die kommissie gedoen en kon geen onreëlmatighede vind nie.
Kort daarna het BAE, nadat hy eers nie wou sê wie die kommissie in Suid-Afrika ontvang het nie, bekend gemaak dat dit betaal is aan Osprey Aerospace, ‘n Johannesburgse maatskappy, waarvan Charter een van twee direkteure is.
Die Guardian-koerant in Londen wat die laaste paar maande ‘n reeks berigte oor BAE se wapentransaksies met ander lande geskryf het, het die afgelope week gewis dié kommissie kan tot R2,01 maljaard wees.
In Suid-Afrikaanse wapenverskafferskringe word egter gesê dat die kommissie baie minder was - sowat R126 miljoen.
Charter het die afgelope week aan Rapport gesê albei die bedrae is "buitensporig en ver van die kol".
"As ek soveel verdien het, dink jy ek sal nog op kantoor gesit het?"
Hy sê die taak van sy maatskappy, wat ‘n verhouding van sowat dertig jaar met BAE Systems het, was nooit om politieke kontakte op te bou of die guns van amptenare te wen nie.
"Wat mense nie verstaan nie, is dat die wapenaankoopproses ‘n hoogs tegniese en mededingende proses is wat oor baie jare strek."
Hy sê Osprey het bloot BAE bygestaan en geadviseer oor die behoeftes van die Suid-Afrikaanse regering in ‘n poging om ‘n pakket saam te stel wat in al hul behoeftes sal voorsien en die beste kans het om die kontrak te beklink.
En hoeveel het hulle vir dié dienste verdien? Charter wil nie sê nie, maar sê die bedrag wat hulle verdien het, was "eintlik ‘n verleentheid" gemeet aan die hoeveelheid werk wat hulle gedoen het. Hy sê daar is "baie beslis" ook nie van hom verwag om omkoopgeld van BAE Systems oor te betaal nie. "Die hele aankoopproses is baie professioneel gehanteer en was uiters mededingend.'
Diegene wat sinies is oor die verhouding tussen BAE Systems en Osprey wys daarop dat Charter ook ‘n direkteur van BAE Systems se Suid-Afrikaans geregistreerde maatskappy is. Charter dien in BAE se Suid-Afrikaanse direksie saam met Diliza Mji, voormalige sekretaris-generaal van die ANC in KwaZulu-Natal. Charter sê BAeE SA is nooit regstreeks by die wapentransaksie betrek nie en is gestig om ander beleggingsmoontlikhede in Suid-Afrika te ondersoek. Hy sê Mji was nooit in die bestuur van Osprey nie en het nooit iets met die Hawk-aankope te doen gehad nie.
Met erkenning aan Pieter Malan en die Rapport.