Wapen-fortuin in SA |
Publication | Beeld |
Date | 2003-07-01 |
Reporter |
Erika Gibson |
Web Link |
'n Geheimsinnige instelling in Suid-Afrika kon as agent in die Britse wapenverskaffer BAE Systems se transaksie om Hawk-vegopleidingsvliegtuie aan Suid-Afrika te verkoop, tot R2 miljard se kommissie verdien het.
Die Britse regering het die betaling van die kommissie Maandag bevestig, maar sy departement van handel en nywerheid (DTI) wat die transaksie goedgekeur het, weier om die presiese bedrag bekend te maak.
BAE Systems het Maandagaand in reaksie gesê dit is nié ongewoon vir 'n buitelandse maatskappy om in 'n nuwe mark soos Suid-Afrika van konsultante gebruik te maak nie. Hy het ontken dat daar met die oorbetaling van die kommissie "die bedoeling of feitelike korrupsie ter sprake was".
The Guardian het Maandag berig dat BAE Systems weier om weens die vertroulike aard van die transaksie die naam van die agent of agente in Suid-Afrika bekend te maak.
Na berig word, het die Britse DTI erken hy weet ook nie aan wie die geld uitbetaal gaan word nie, ondanks die feit dat dié departement die leningswaarborge vir die transaksie van R18 miljard moes verskaf het. BAE Systems het al in die verlede R2 miljard se kommissie betaal op soortgelyke kontrakte. Volgens die Britse DTI was die betrokke bedrag "binne aanvaarbare perke".
Me. Patricia Hewitt, die Britse minister van handel en nywerheid, het Maandag op parlementêre vrae geantwoord die DTI vereis dat sekere besonderhede van agentekommissie in groot transaksies aan die DTI verskaf móét word.
Volgens haar is die nodige noukeurige prosedures gevolg en geen onreëlmatighede is in die proses deur haar departement bespeur nie.
Mnr. Andrew Feinstein, voormalige ANC-LP en voorheen lid van die staande komitee vir openbare rekenings (Skoor), het aan The Guardian gesê die Britse en Suid-Afrikaanse regerings het in openbare belang 'n verpligting en verantwoordelikheid om besonderhede oor die agent of agente bekend te maak.
Hoewel die transaksies in 1999 onderteken is, sal die betaling van die kommissie heel moontlik nog vir die volgende paar jaar voortduur totdat die vliegtuie teen 2006 afgelewer word.
Met erkenning aan Erika Gibson en die Beeld.