Wapenskandaal |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-06-10 |
Web Link |
Waar 'n rokie is, is 'n vuurtjie. Dis sekerlik nie altyd waar nie, maar alte dikwels wel.
Insake die bewerings rondom die toeken van kontrakte in verband met die weermag se strategiese wapenaankoop-pakket begin die rokie nou al hoe meer na vuur ruik.
Veral wanneer in ag geneem word dat die oorspronklike verslag van die ouditeur-generaal oor die saak wesenlike elemente bevat wat uit die uitgereikte verslag weggelaat is, word dit al hoe dringender dat die saak deeglik ondersoek word.
Die feit dat die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) in die parlement die saak nou gaan ondersoek, is daarom 'n effense verbetering, maar nie voldoende nie. Openheid en deursigtigheid is vereistes vir 'n geloofwaardige hantering van die saak.
Helaas boesem die ANC se optrede in die verlede rakende die wapenskandaal weinig vertroue in.
Met die opvallende uitsondering van die destydse voorsitter van die ANC se studiegroep oor openbare rekeninge, mnr. Andrew Feinstein, is die optrede van die ANC-lede toe gekenmerk deur 'n georkestreerde poging om die saak toe te smeer.
En om die kroon te span is Feinstein toe ook nog uitgewerk omdat hy die demokrasie as belangriker as die ANC se partybelang durf beskou het.
Pres. Thabo Mbeki se gebruik van die rassekaart rakende die skandaal is ook geen bewys van 'n werklike begeerte om die saak oop te vlek nie.
Intussen het Skoor 'n voorsitter van die NNP gekry, mnr. Francois Beukman. Indien Beukman krediet vir die NNP by sy tradisionele kieserskorps wil herwin, sal hy nie hier die rol van ANC-handperdjie speel nie, maar Feinstein as sy voorbeeld neem.
Dis nietemin twyfelagtig of hy in staat sou wees om 'n toesmeerdery te keer. Daarom sou 'n onafhanklike ondersoek beter wees. 'n Skoor-ondersoek kom bloot daarop neer dat die ANC homself ondersoek.
Met erkenning aan Die Burger.