Woods Wil OG 'Laat Verwyder' |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-08-23 |
Reporter |
Anesca Smith |
Web Link |
Druk oor die wapenverslag het gister verder teen die ouditeur-generaal, mnr. Shauket Fakie, toegeneem met 'n moontlike eis om hom van sy amp te onthef.
Die Burger het gister uit 'n betroubare bron verneem die "verstote" voorsitter van die parlement se waghond oor staatsbesteding, dr. Gavin Woods (IVP), oorweeg dit om in 'n parlementêre mosie Fakie se verwydering te vra.
Woods was tot Februarie verlede jaar voorsitter van die staande komitee oor openbare rekenings. Hy het egter bedank weens "herhaalde inmenging van die ANC, wat daartoe gelei het dat Skoor nie sy werk na behore kon doen om te sorg dat die multimiljardrand-wapenkontrak deeglik ondersoek word nie".
Woods het gister by navraag gesê hy sal dit oorweeg om 'n mosie teen Fakie in te dien as daar "genoeg gronde" is daarvoor.
Volgens Woods is so 'n voorstel Donderdag "in die verbygaan" in sy party gemaak. "Die besluit berus nie by my nie, dit is iets waaroor die party (die IVP) sal moet besluit." Oor of daar genoeg redes is vir so 'n mosie, het Woods gesê daar is "sekere dele waarna gekyk kan word".
"Dit is algemeen bekend dat ek openlik sterk met Fakie verskil het oor die wapenverslag," het hy gesê.
Fakie kan net van sy amp onthef word as 'n substantiewe mosie kragtens die Nasionale Vergadering se reëls ingedien is en die speaker reken dis geregverdig.
Fakie het op sy beurt Woods onlangs uitgesonder as een van die LP's wat hom en sy kantoor die afgelope jaar in 'n swak gelig gestel het in kommentaar oor die wapenondersoek.
Hy glo die parlement het dalk rede om op te tree teen dié LP's.
Met erkenning aan Anesca Smith en Die Burger.