Zuma-'Vennote' Ontken Geldwassery-Bewerings |
Publication | Rapport |
Date | 2003-08-31 |
Reporter |
Pieter Malan, Gerhard de Bruin |
Web Link |
In die onherbergsame Zoeloeland in 'n gebied skaars bereikbaar per motor is die geboorteplek van adj.pres. Jacob Zuma.
Dit is hier, by Nkandla, waar Zuma vir hom 'n moderne kraal van meer as R1 miljoen laat bou het wat na bewering betaal is met omkoopgeld wat hy verdien het in die regering se omstrede wapentransaksie.
In die kraal met sy twaalf gerieflike grasdakhutte woon een van Zuma se vele vroue en familielede.
Dit is met 'n moderne duiwelsvurk-heining omhein, bevat 'n reeks splinternuwe hutte, spog met water en elektrisiteit, moderne telefoonverbindings en het selfs 'n elektroniese hek - in sterk kontras met die Zumas se meer primitiewe bure wat in modderhutte bly en kilometers ver moet stap om drinkwater te gaan haal.
Luidens die klagstaat in die saak teen mnr. Schabir Shaik, Zuma se finansiële raadgewer, is die multi-miljoenrand-kraal die produk van 'n ingewikkelde reeks transaksies om die eintlike herkoms van die geld te verbloem.
Minstens vier mense was na bewering by dié geldwassery betrokke.
Ingevolge 'n ooreenkoms tussen Zuma, Shaik en Alain Thétard, 'n verteenwoordiger van die Franse wapenmaatskappy Thomson, het Thomson in Maart 2000 ingestem om Zuma R500 000 per jaar (oor twee jaar) te betaal. In ruil daarvoor sou Zuma Thomson help beskerm in die wapenondersoek en "permanente ondersteuning vir toekomstige projekte" gee.
Om uitvoering aan hierdie ooreenkoms te gee, is daar selfs 'n "diensverskaffersooreenkoms" tussen Nkobi en Thales (Thomson het in Desember 2000 sy naam in Thales verander) gesluit waardeur R1 miljoen in vier paaiemente van R250 000 betaal sou word.
Shaik het aanvanklik gesukkel om die geld uit Thales te kry, soos blyk uit 'n brief gedateer 8 Desember 2000, waarin Shaik vra dat Thales dringend hul diensooreenkoms nakom omdat "sake baie dringend is vir my kliënt".
Thales het daarna sy eerste paaiement op 16 Februarie 2001 betaal.
'n Mens lei uit die klagstaat af dat die "dringendheid" waarna Shaik verwys, spruit uit die feit dat Zuma in 2000 'n kontrak met 'n bouer, Eric Malangret, gesluit het vir die bou van sy tradisionele tuiste by Nkandla.
Die kwotasie was aanvanklik vir R2,4 miljoen, maar is later verminder tot R1,34 miljoen.
Zuma het blykbaar nie in daardie stadium soveel geld gehad nie, en 'n Durbanse sakeman, Vathasallum "Vivian" Reddy, het tot sy redding gekom en Malangret vir die boukoste van R100 000 betaal.
Reddy het ook vir Zuma borg geteken vir 'n huislening van Eerste Nasionale Bank van R900 000. Die oorgrote meerderheid van Zuma se skuld by Malangret is hiermee gedelg. Reddy het ook sedert die begin van die jaar die maandelikse paaiement van R12 117,11 op dié lening betaal.
Luidens die klagstaat het Reddy Malangret dus effektief vervang as Zuma se debiteur. Sedert Februarie 2001 het daar reeds verskeie transaksies tussen Shaik en Reddy plaasgevind wat blykbaar daarop gemik was om Zuma se skuld aan Reddy te delg.
Die aanklaer meen ook minstens een van die transaksies kan regstreeks teruggevoer word na 'n betaling van R250 000 in Februarie 2001 ingevolge die "diensverskaffersooreenkoms" wat vroeër tussen Thales en Zuma gesluit is.
Luidens die klagstaat dui die transaksies daarop dat Thomson Thales vir Nkobi gefinansier het in 'n reeks transaksies en dat Nkobi dan weer op sy beurt vir Zuma gefinansier het deur Malangret en/of Reddy te betaal.
Malangret het Vrydag ontken dat hy enige rol in geldwassery gehad het.
Hy sê Zuma het hom kontant en deur 'n banklening by Eerste Nasionale Bank vir sy werk betaal.
"Die nasionale vervolgingsgesag het sy magte (tydens die ondervragingsproses) misbruik . . . en onskuldige partye belaster. Ek is besig om 'n regsmening in te win om te besluit of ek siviel teen die Skerpioene wil optree."
Mnr. Matt Pothecary, 'n woordvoerder van Thales, sê hulle ontken die bewerings.
Hulle is bereid om in enige saak te getuig, mits hul werknemers in Parys kan getuig.
Met erkenning aan Pieter Malan, Gerhard de Bruin en die Rapport.