Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-08-25 Reporter:

Zuma-Debakel

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-08-25

Web Link

www.news24.com/Die_Burger

 

Die  besluit van die openbare vervolger, adv. Bulelani Ngcuka, om adj.pres. Jacob Zuma nié te vervolg nie, ondanks prima facie-getuienis dat hy hom in die wapenskandaal aan korrupsie skuldig sou gemaak het, is 'n duidelike gevaarteken vir die Suid-Afrikaanse demokrasie.

Onlosmaaklik deel van die demokrasie is die skeiding tussen die wetgewende, uitvoerende en regsplegende gesag. Dit beteken onder meer dat die regering nie op politieke gronde mag besluit wie om op watter aanklag te vervolg nie, maar dat 'n onafhanklike openbare vervolger dié taak moet uitvoer, en dat 'n eweneens onafhanklike regbank oor die skuld of onskuld moet besluit.

Nou was dit die laaste weke reeds duidelik dat heelparty persoonlike oorwegings agter die vete tussen Ngcuka en Zuma skuil. Dit het ook toenemend duidelik geword dat die regerende ANC se eie binnegevegte in die saak verstrengel geraak het.

Uiteindelik was daar sterk sprake van swaar politieke druk op Ngcuka om Zuma nie verder aan te pak nie. Agter die skerms is gefluister dat Ngcuka nagelaat het om sy eie rug te dek deur éérs sy kamerade in die ANC te raadpleeg voordat hy teen Zuma begin optree het, en dat die ANC nie daarvan gehou het nie.

Dit alles laat die gevaarligte vir die demokrasie in Suid-Afrika flikker. Heel duidelik is die regspleging hier nie toegelaat om onafhanklik te werk te gaan nie, en blykbaar was die openbare vervolger se motiewe om oorspronklik teen Zuma op te tree ook nie heeltemal suiwer nie.

Ngcuka se standpunt in die naweek het aan die absurde gegrens toe hy gesê het daar is wel 'n prima facie-saak teen Zuma, maar dat die kans op 'n suksesvolle vervolging klein is. Wel, indien laasgenoemde waar is, is daar geen prima facie-saak nie. As daar 'n prima facie-saak is, moet die vervolging voortgaan. Só eenvoudig is dit.

Met erkenning aan Die Burger.