Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-10-01 Reporter: Kommentaar

Zuma en Ngcuka

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-10-01

Reporter

Kommentaar

Web Link

www.news24.com/Die_Burger

 

Die oor-en-weer-beskuldigings wat tans rondgeslinger word tussen adj.pres. Jacob Zuma en die nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Bulelani Ngcuka, word nou 'n beskamende spektakel. Dit is hoog tyd dat die knoop deurgehak word.

Enersyds moet Ngcuka nou besluit of hy Zuma wil aankla of nie.

Sy houding, dat daar wel prima facie-getuienis van korrupsie teen Zuma is, maar dat dit nie voldoende is om 'n skuldigbevinding in 'n hof te verseker nie, is onhoudbaar. Die Latynse regsbegrip prima facie beteken "op die eerste gesig". In die praktyk beteken dit dat die vervolgingsgesag meen hy het 'n realistiese kans om 'n skuldigbevinding te kry.

As hy meen hy het dit nié, is daar nie prima facie-getuienis nie. Dis so eenvoudig soos dit. As regsgeleerde moet Ngcuka dit tog ook weet, wat 'n mens laat vermoed dat allerlei ander - persoonlike of politieke - faktore dalk hieragter kan skuil.

Ngcuka moet dus nou vir Zuma aankla of hom uitlos sodat hy verder met sy werk kan aangaan. Geen regering kan behoorlik funksioneer met so 'n wolk wat oor die adjunkpresident hang nie.

Aan die ander kant moet die Zuma-kamp ophou met sy skinderstories oor Ngcuka wat dan 'n apartheidspioen sou gewees het. Die waarheid hiervan, al dan nie, sou vir historici interessant kon wees, maar kan slegs relevant vir die saak wees as dit Ngcuka se eienaardige optrede teenoor Zuma kan help verklaar.

As dit 'n kwessie is van wraak teenoor Zuma (wat in die struggle-tyd die beweerde ondersoek na Ngcuka sou gelei het), moet dit na buite kom, en kan hy nie in sy huidige pos gehandhaaf word nie.

Uiteindelik trek dit alles die aandag af van die eintlike kern, die vraag of Zuma hom aan korrupsie skuldig gemaak het. Dus moet Ngcuka nou besluit wat hy wil doen. En tegelykertyd kan pres. Thabo Mbeki ook maar sy gerieflike posisie op die draad prysgee.

Met erkenning aan Die Burger.