Zuma en die Skerpioene |
Publication | Rapport |
Date | 2003-08-02 |
Web Link |
Die uiteinde van die nuutste hoofstuk in die wapenskandaal - die rusie oor die Skerpioene se ondersoek na bewerings dat adj.pres. Jacob Zuma omkoopgeld gevra en gekry het - gaan van veel groter nasionale belang wees as bewyse van Zuma se skuld of onskuld.
Die demokrasie self staan voor 'n belangrike toets - en om dit te slaag, moet die ondersoek ongehinderd sy gang gaan. Dit beteken dat daar geen sweem van magsmisbruik of politieke druk op óf die Skerpioene óf adv. Bulelani Ngcuka en die nasionale vervolgingsgesag mag wees nie. Die vervolgingsgesag se onafhanklikheid van die uitvoerende gesag en politieke partye moet gehandhaaf word as een van die onaantasbare grondwetlike pilare van ons demokrasie.
Die woordestryd tussen Zuma en Ngcuka, insinuasies oor politieke intrige met die oog op die uiteindelike opvolgingstryd om pres. Thabo Mbeki se pos en 'n erg subjektiewe verklaring uit die geledere van die regerende ANC, het kommer gewek oor die vermoë om die letter en gees van die Grondwet te handhaaf én om korrupsie uit te roei.
Geen lojale Suid-Afrikaner sal wil hoor dat sy adjunkpresident se integriteit bedenklik is of dat hy korrup is nie. Maar die hele nasie se integriteit sal aangetas wees as die ondersoek, ongeag die uitslag, nie bo alle verdenking is nie.
Met erkenning aan die Rapport.