Publication: Rapport Issued: Date: 2003-08-24 Reporter: Pieter Malan

Zuma Steier

 

Publication 

Rapport

Date 2003-08-24

Reporter

Pieter Malan

Web Link

www.news24.com/Rapport

 

Die politieke toekoms van adj.pres. Jacob Zuma hang aan 'n dun draadjie nadat adv. Bulelani Ngcuka, direkteur van openbare vervolging, gister aangekondig het daar bestaan wel rede om Zuma weens korrupsie te vervolg, maar dat hulle daarteen besluit het omdat "die kanse op sukses te klein sal wees".

Ngcuka het dié aankondiging gister gedoen op 'n nuuskonferensie in die vervolgingsgesag se hoofkantoor in Silverton, Pretoria. Dr. Penuell Maduna, minister van justisie en sy politieke hoof, het langs hom gesit.

Ngcuka sê die ondersoekspan, gelei deur adv. Gerda Ferreira, het aanbeveel dat Zuma strafregtelik vervolg word, maar "ná versigtige oorweging waartydens ons bedaard na die feite gekyk het, het ons besluit dat . . . ons kanse op sukses nie sterk genoeg is nie.

"Dit beteken ons is nie seker dat ons so 'n saak sal wen nie."

Zuma is nog lank nie skotvry nie omdat inligting oor geskenke vir en donasies aan Zuma deur Ngcuka na die parlement verwys word vir oorweging.

Zuma se inskrywings in die parlementêre register van ledebelange sedert 1999 toon geen buitengewone artikels nie.

Die korrupsiewolk wat toe nog oor die adjunkpresident hang, sal vir seker ook sy skaduwee oor Zuma se politieke toekoms gooi.

Druk van binne en buite die ANC dat hy sy amp neerlê, het gister reeds begin toeneem. Teen druktyd was daar geen reaksie van Zuma se kantoor nie.

Pres. Thabo Mbeki het gisteraand by monde van sy woordvoerder, mnr. Bheki Khumalo, gesê hy "gaan hom nie laat insleep by die saak nie".

Maduna het op die nuuskonferensie gesê die politieke kwessies "moet liefs deur die ANC uit Luthuli-huis gehanteer word". Hy het egter bygevoeg dat dit "hartseer is dat dié saak so moes eindig".

"Dis vir my persoonlik ook baie moeilik omdat ek 'n baie goeie verhouding met hom gehad het."

Maduna sê ondanks die politiek sensitiewe ondersoek wat die besluit voorafgegaan het, was hy nie bewus van enige druk uit regeringskringe om die hele kwessie onder die mat te vee nie.

Ngcuka het gister ook aangekondig dat verskeie strafregtelike klagte teen mnr. Schabir Shaik, Zuma se vertroueling en finansiële raadgewer, ingedien gaan word.

Die sake sluit in korrupsie, bedrog, die diefstal van maatskappy-eiendom, belastingontduiking en roekelose handel.

Shaik se maatskappye, die Nkobi-groep, asook Thomson CSF, gaan ook vervolg word weens oortredings van die Maatskappyewet. Getuienis teen die Franse burgers Alain Thetard en Jean-Paul Perrier, 'n direkteur van Thales International, word na die Franse owerheid verwys vir verdere optrede.

Ngcuka sê sou enige van die hofsake wat uit hul ondersoek spruit verdere getuienis teen Zuma opdiep, sal hulle "beslis hul besluit (om hom nie te vervolg nie) heroorweeg".

Shaik se prokureur, mnr. Parsee Reeves, het gistermiddag gesê sy kliënt verwelkom die geleentheid om homself te verdedig.

"Ek kan nie sê ons is gelukkig oor die klagte nie, maar ons is vir seker verlig dat die klagte uiteindelik geformuleer is. Dit was nog altyd ons standpunt: as julle dink julle het 'n saak teen ons, kla ons aan."

Ngcuka se besluit om nie die adjunkpresident te vervolg nie, het gister kwaai onder opposisiepolitici deurgeloop wat dit 'n "ondermyning van die regsproses" genoem het.

Ngcuka sê egter hy is oortuig dat hulle alles in hul vermoë gedoen het om die saak teen Zuma te ondersoek. Hy sê omdat Shaik al Zuma se geldsake gehanteer het, was dit nie nodig om enige dokumente by hom te gaan soek nie. "Ons klopjag op Shaik het alles opgelewer wat ons nodig gehad het."

Hy sê die probleem met getuienis teen Zuma is die feit dat alle dokumente wat Zuma by omkopery betrek "oor hom handel, maar nie deur hom geskryf is nie".

Dit is 'n klaarblyklike verwysing na 'n gekodeerde faks wat deur Alain Thetard, gewese hoof van die plaaslike tak van Thomspon CSF (nou Thales) aan sy base gestuur is.

Daarin sê Thetard dat 'n ene "JZ" aangedui het dat hy R500 000 per jaar wil hê in ruil vir "politieke ondersteuning en steunwerwing".  

Met erkenning aan Pieter Malan en die Rapport.