Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-10-14 Reporter: Willem Jordaan

ANC Dink Min Van Maduna se Uitpratery

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-10-14

Reporter

Willem Jordaan

Web Link

www.news24.com/Die_Burger/

 

Kaapstad - 'n Erg ontevrede ANC dink min van dr. Penuell Maduna, minister van justisie, se aankondiging dat hy nie weer in die kabinet wil dien nie en ook nie aanstaande jaar na die parlement wil terugkeer nie.

Met dié standpunt van die ANC se nasionale werkkomitee (NWK) het die party gister sy swye oor Maduna se verrassende stap verbreek, en skerp te velde getrek teen die manier waarop Maduna die aankondiging gedoen het. Die party het ook probeer wal gooi teen uitlatings van Maduna wat dui op diep verdeeldheid in die ANC.

"Die NWK dink maar min van die feit dat die organisasie in die media moes lees van sy besluit," lui die verklaring.

"Die ANC hoop dat Maduna die organisasie deur die regte kanale oor sy standpunt sal inlig."

Die NWK het ná 'n vergadering in Johannesburg ook benadruk dat die ANC-kandidatelyste nog nie gefinaliseer is nie, en dat benoemdes eers ná dít afgehandel is die kans sal kry om benoemings van die hand te wys.

"Nadat die verkiesing verby is en die president mense nader om deel te wees van die nuwe kabinet, sal dié mense insgelyks die kans kry om die president se uitnodiging te aanvaar of dit van die hand te wys."

Op die vraag of die ANC enige tugstappe teen adj.pres. Jacob Zuma gaan doen, het mnr. Steyn Speed, ANC-woordvoerder, gesê daar is glad nie sulke planne nie.

Maduna het die naweek in 'n onderhoud die sluier ietwat gelig oor die uitwerking van 'n maande lange veldtog teen hom en adv. Bulelani Ngcuka, direkteur van openbare vervolging, waarin e-posse aan die media en die ANC gestuur word met bewerings dat hulle ampte misbruik om individue die teiken te maak.

"Die ANC kry baie seer," het Maduna gesê en verwys na verdeeldheid in die organisasie. In weerwil van sy uitlatings het die NWK gister voet by stuk gehou die ANC is nie verdeeld nie.

"Die ANC is verenig in sy oortuiging dat bewerings van korrupsie teen enige individu deeglik ondersoek moet word," het die NWK gesê in 'n klaarblyklike verwysing na die Skerpioene se ondersoek na Zuma.

"Die ANC is ook eenparig in sy oortuiging dat enigiemand onskuldig is totdat hy skuldig bewys is."

Volgens die NWK sal enigiemand wat die ANC ken, weet dat 'n kwessie soos die ondersoek teen Zuma nie die organisasie kan verdeel nie.

Maduna is in Indië en kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.