Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-11-18 Reporter: Gert Coetzee

Apartheidspioen : Maharaj Gee Geen Klinkklare Bewyse

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-11-18

Reporter

Gert Coetzee

Web Link

www.news24/Die_Burger/

 

Bloemfontein - 'n Sloerdery, ontwykings, wanvertolking van vrae en 'n gekibbel oor klein besonderhede het gister verrigtinge van die Hefer-kommissie gekenmerk.

Wat afwesig was, was klinkklare bewyse dat adv. Bulelani Ngcuka, direkteur van openbare vervolging, 'n apartheidspioen was.

Wat wel ná 'n lang geredekawel uitgekom het, was erkennings van mnr. Mac Maharaj, oudminister van vervoer, dat mnr. Mo Shaik, Ngcuka se mede-beskuldenaar, die spioenbewerings aan me. Ranjeni Munusamy, oudjoernalis, uitgelap het.

Hy het ook erken dat me. Vanessa Brereton - nie Ngcuka nie - spioen RS452 was.

Maharaj meen egter in 'n poging om die ware spioen se identiteit te verbloem, kon inligting van Ngcuka in haar lêer aan haar vermeende hanteerder, oudkapt. Karl Edwards, 'n voormalige lid van die veiligheidstak, toegedig word.

Maharaj se oënskynlike strategie gister dat aanval die beste verweer is, het selfs 'n reaksie van oudregter Joos Hefer ontlok.

Maharaj het baie keer aanstoot geneem oor kleiner besonderhede, maar nie by die kwessies uitgekom wat in vrae aan hom gestel is nie.

"Mnr. Maharaj, die wyse waarop u vrae beantwoord, neem baie tyd in beslag. Staak dit, asseblief," het Hefer gevra.

Adv. Marumo Moreane, vir Ngcuka was krasser.

"Skeefgetrekte gevolgtrekkings spruitende uit verkeerde feite," het hy dit aan Maharaj oor "onbeslissende dokumente" gestel.

Hierop het Maharaj, soos die vorige dag, weer sy troefkaart gespeel.

"Wag maar net vir Shaik se getuienis."

Maharaj se slotsom oor Ngcuka se beweerde spioenskap is gegrond op Shaik se MJK-verslag in 1989-'90 en op die feit dat hy geen opdrag "tot die teendeel" van Lusaka hieroor gekry het nie.

Hiermee berus die bewyslas nou op Shaik, oudspioen van die ANC en raadgewer van die minister van buitelandse sake, om die aantygings teen Ngcuka te staaf.

Shaik is klaarblyklik gretig om dit te doen.

"Ek kan nie wag nie," het hy gesê toe Hefer hom aangesê het dat sy praatbeurt nog kom.

Met erkenning aan Gert Coetzee en Die Burger.