Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-10-14 Reporter: Dawie

Fokus Moet Val Waar Hy Hoort - by Korrupsie

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-10-14

Reporter

Dawie

Web Link

www.news24.com/Die_Burger/

 

Nog nooit het Suid-Afrika só 'n beskamende politieke spektakel beleef as nou met die geveg in die ANC nie.

Politieke gevegte, ook binne 'n enkele politieke party, is niks nuuts in dié land nie; in feitlik alle partye, die ou NP, die VP, die DP en sy voorgangers, die ANC, die PAC - noem maar op - het die hare soms gewaai soos politieke opponente mekaar ingeklim het. Ambisie en persoonlike geskille het dikwels 'n rol gespeel, maar dit het meestal met prinsipiële en ideologiese verskille gepaardgegaan.

Vir die eerste keer word 'n invloedryke party soos die regerende ANC egter byna uitmekaar geskeur sonder dat 'n enkele sigbare prinsipiële of ideologiese saak aan die orde is. Selfs die beginsel dat korrupsie stewig vasgevat moet word, het ver op die agtergrond verdwyn.

Net om die geheue te verfris: Die hele affêre het na buite getree met bewerings dat adj.-pres. Jacob Zuma omkoopgeld aanvaar het om die toekenning van die kontrakte vir die strategiese wapenpakket te beïnvloed.

Weliswaar was hy toe nog net leier van die ANC in KwaZulu-Natal en lid van dié provinsie se wetgewer, maar hy was wel deeglik 'n invloedryke politikus wat agter die skerms by magte was om diskreet invloed uit te oefen.

Baie meer bewerings is oor korrupsie en ontoelaatbare praktyke gedoen, onder meer teen wyle min. Joe Modise. Pogings om 'n onafhanklike ondersoek daarna te doen, onder meer deur die ondersoekeenheid van die destydse regter Willem Heath, is telkens deur die ANC in die wiele gery.

Uiteindelik het die direkteur van nasionale vervolging, adv. Bulelani Ngcuka, besluit om die sakeman mnr. Schabir Shaik, te vervolg. Heel eienaardig het hy daaraan toegevoeg dat, ofskoon hy prima facie-bewyse teen Zuma het, dit nie voldoende is om 'n skuldigbevinding te verseker nie.

Al wat 'n regsgeleerde is, het dié besluit uitmekaar getrek. As jy prima facie-bewyse het, beteken dit immers per definisie dat jy meen jy het 'n redelike kans in die hof. Dus, vanwaar dié eienaardigheid?

Wel, agter die skerms word soveel gif na weerskante gespuit dat 'n mens halfvuil voel om selfs daarna te verwys, maar dit behels dikwels bewerings van hoogs intieme en lasterlike persoonlike aard. Ngcuka het van sy kant 'n groep uitgesoekte swart koerantredakteurs hiermee probeer beïnvloed, en die Zuma-kamp het teruggekap met die "uitlek" van bewerings dat die ANC Ngcuka glo voor 1990 daarvan verdink het dat hy 'n spioen vir die destydse regering was.

Die saak is na oudregter Joos Hefer vir ondersoek verwys.

Sommige ANC-leiers het in die openbaar kant begin kies - oudmin. Mac Maharaj byvoorbeeld vir Zuma, en min. Penuell Maduna vir Ngcuka. Pres. Thabo Mbeki het op die draad bly sit en sy kake styf op mekaar geklem.

Die jongste ontwikkeling is dat die Hefer-opdrag uitgebrei is om bewerings te ondersoek dat ook Maduna 'n apartheidspioen was en dat hy en Ngcuka die vervolgingsliggaam onwettig vir hul eie politieke doeleindes misbruik het. Dít nadat twee mense, die mynmagnaat Brett Kebble en Maduna se eie adjunk-direkteur-generaal, mnr. Mike Tshishonga, bewerings daaroor gedoen het.

Wat dié saak verder versluier, is die feit dat albei in die jongste verlede skerp met sowel Maduna as Ngcuka gebots het.

Die gevolg hiervan is 'n hoogs onaantreklike kattegeveg tussen volwasse mense wat van beter behoort te weet. 'n Rookskerm is getrek oor die éintlike saak waaroor dit oorspronklik gegaan het, naamlik die beweerde korrupsie van die land se adjunkpresident.

Oor daardie kwessie word feitlik glad nie meer gepraat nie. Dalk was dit ook die doel van die Zuma-kamp se teenaanval. Indien wel, het dit - voorlopig altans - skitterend geslaag.

Intussen dui alles daarop dat die Suid-Afrikaanse regsmasjinerie die slagoffer van agterbakse politiekery geword het. En dit skaad die demokrasie en die politiek in die algemeen.

Suid-Afrika gaan aanstaande jaar sy derde demokratiese verkiesing beleef. Dink die bakleiers dat dít die manier is om kiesers by die stembus te kry en die demokrasie uit te bou?

Die natuurlike reaksie van baie mense sal wees om eenvoudig af te skakel, na binne te emigreer en hul misnoeë te wys deur nie by die stembus op te daag nie. Dit sou 'n - begryplike - fout wees, want daardeur kry die skuldiges by implikasie 'n vrybrief om sulke wantoestande voort te sit.

Bowenal het die tyd aangebreek dat Mbeki van sy gerieflike posisie op die draad moet afklim. Wat nou nodig is, is duidelike en onomwonde leiding.

Enersyds moet Ngcuka in die bek geruk word. Hy moet Zuma aankla of hom uitlos. Andersyds moet die Zuma-kamp ophou om Ngcuka verdag te maak.

En die belangrikste: Bring die fokus terug waar hy hoort, by die beweerde korrupsie in die wapentransaksie. Los die afleidingsmaneuvers, want dit oortuig niemand nie.

Met erkenning aan Dawie en Die Burger.