Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-10-16 Reporter: Anesca Smith

Ecaar Wil SA Korvet Uit die Land se Waters Hou Met Interdik

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-10-16

Reporter

Anesca Smith

Web Link

www.news24.com/Die_Burger/

 

Kaapstad - 'n Hofaansoek om te verhinder dat die eerste van die nuwe korvette Suid-Afrikaanse waters oor drie weke binnevaar, word vanoggend by die Kaapse hooggeregshof ingedien.

Die drukgroep, Economists Allied for Arms Reduction (Ecaar), gaan aansoek doen om 'n dringende interdik wat die SAS Amatola toegang tot Suid-Afrikaanse waters en hawens belet. Oftewel, ten minste totdat uitspraak verkry is in Ecaar se hofgeding om die wapentransaksie gekanselleer te kry, het die organisasie se voorsitter, mnr. Terry Crawford-Browne, gesê.

Die SAS Amatola, die eerste van vier nuwe oorlogskepe vir die Suid-Afrikaanse Vloot, word op 4 November in Valsbaai verwag.

"Die skip se aankoms benadeel ons saak om die wapentransaksie ongrondwetlik verklaar te kry," het Crawford-Browne gesê.

Hy beskuldig die regering van pogings om die hofsaak te vertraag en beskou dit as 'n taktiek "om Ecaar finansieel en geestelik uit te mergel".

Die saak is sedert 2001 aan die gang, maar is intussen deur voortspruitende kantlyn-regsgedinge oorskadu. Een daarvan is Ecaar se stryd om dokumente wat aandui of Suid-Afrika die wapenpakket kan bekostig, in die hande te kry.

Die organisasie het ingevolge 'n hofbevel in Maart toegang gekry tot dié bekostigbaarheidstudie, maar beweer dat hy nog net 28 van die geraamde 700 blaaie gekry het. Die minister van finansies en verweerder in die hofsaak, mnr. Trevor Manuel, ontken egter dat daar nog 'n deel van die dokument uitstaande is. Ecaar het nou die tweede keer 'n aansoek oor minagting van die hof teen die regering ingedien.

Die regter-president het albei regspanne in Augustus beveel om ooreen te kom oor hofdatums sodat die saak voor einde vanjaar afgehandel word.

Crawford-Browne beweer die tenderprosedure vir die korvette was nie in ooreenstemming met basiese kontrakwette óf met die grondwet nie.

"Laasgenoemde lui dat aankope deur die regering 'n stelsel moet volg wat regverdig, billik, deursigtig, mededingend en kostebesparend is. In September het die appèlhof 'n munisipale behuisingstender in Klerksdorp tersyde gestel omdat dit nie hieraan voldoen het nie."

Met erkenning aan Anesca Smith en Die Burger.