Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-11-08 Reporter: Willem Jordaan

Hefer Hoor Straks Nog Zuma se Klagte Ook

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-11-08

Reporter

Willem Jordaan

Web Link

www.dieburger.co.za

 

Kaapstad - Die klagte van magsmisbruik wat adj.pres. Jacob Zuma ingedien het teen adv. Bulelani Ngcuka, direkteur van openbare vervolging, kan straks nog voor die Hefer-kommissie beland.

Die rusie tussen Zuma en Ngcuka het vandeesweek wyer uitgekring toe Zuma Ngcuka opnuut beskuldig het van ‘n poging tot karaktermoord met die Skerpioene se ondersoek na korrupsie.

Zuma het gevra dat die onafhanklike beskermer (OB) Ngcuka hieroor ondersoek.

Woordvoerders van mnr. Lawrence Mushwana, die OB, en die kommissie van ondersoek onder oudregter Joos Hefer wou gister nie die moontlikheid uitsluit dat Zuma se klagte na Hefer verwys kan word nie.

Me. Nicolette Teichmann, die OB se woordvoerder, het aan Die Burger gesê Zuma se klagte word nog bestudeer en daarom is dit nie moontlik om nou al te sê of dit na Hefer verwys sal word nie.

Adv. John Bacon, sekretaris van die Hefer-kommissie het op sy beurt gesê hy is nie vertroud met die inhoud van die klagte wat Zuma by die OB ingedien het nie. Hy het bygevoeg dat die Hefer-kommissie ‘n goeie verhouding met die OB het en dat hy oortuig is Mushwana sal die kwessie na die kommissie verwys as hy meen dit is nodig.

Bacon het ook bevestig dat die kommissie, wat moet vasstel of Ngcuka ‘n apartheidspioen was en of hy sy magte misbruik het, die dokumente en besonderhede van Zuma se klagte kan aanvra.

Die moontlikheid dat Zuma se klagte na Hefer verwys word, laat weer die vraag ter sprake kom of Zuma voor Hefer sal moet getuig.

Zuma het vroeër te kenne gegee hy gaan nie getuig nie, maar volgens Bacon is die kommissie en Zuma steeds in ‘n briefwisseling hieroor.

Intussen het die DA aangedring dat Zuma sy klagte ook aan Hefer voorlê en daaroor getuig.

Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.