Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-11-12 Reporter: Llewellyn Prince

Hofinterdik kan Amatola Kniehalter

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-11-12

Reporter

Llewellyn Prince

Web Link

www.dieburger.co.za

 

Kaapstad - ‘n Maatskappy het gister ‘n dringende aansoek hier in die hooggeregshof gebring om te verhinder dat een van die vier nuwe korvette van die vloot, wat deel is van die regering se omstrede wapentransaksie, met radar- en wapentoerusting toegerus word.

CCII Systems (Edms.) Bpk., met mnr. Richard Young as besturende direkteur, het ‘n aansoek om ‘n voorlopige interdik gebring. Daarvolgens moet Reutech Radar Systems (Edms.) Bpk. van Stellenbosch verbied word om dié toerusting op die SAS Amatola te installeer voordat die maatskappy daarvoor betaal het.

Die SAS Amatola is die eerste van die vier nuwe korvette en het verlede week in Suid-Afrika aangekom. Indien CCII Systems se aansoek suksesvol is, sal dit die ingebruikneming van dié nuwe korvet vertraag.

In hofstukke voer Young aan dat Reutech, onder leiding van mnr. Pieter Willem Smit, verbied moet word om die toerusting te installeer. Daar word ook aangevoer dat indien Reutech dit al gedoen het, die hof die balju magtiging moet gee om daarop beslag te lê.

Verder word aangevoer dat indien die interdik toegestaan word, dit onmiddellik van toepassing moet wees totdat CCII betaling vir die toerusting ontvang het.

Luidens hofstukke het Reutech die kontrak gekry om die korvette met die toerusting toe te rus. CCII het die kontrak gekry om die sagteware vir die toerusting te ontwerp, te bou, te toets en aan Reutech te lewer.

Luidens die hofstukke het CCII die toerusting aan Reutech volgens ‘n geskrewe kontrak op 7 Augustus 2000 verkoop.

In dié kontrak is ‘n klousule wat bepaal dat CCII eienaarskap van die toerusting behou totdat daarvoor betaal is.

CCII voer aan dat hy die toerusting aan Reutech gelewer het, maar dat die koopprys daarvan, sowat R13,5 miljoen, nooit betaal is nie.

Dié maatskappy voer ook aan dat indien die toerusting deur Reutech op die korvette geïnstalleer word voordat daarvoor betaal is, dit sy eienaarskap van die toerusting in die gedrang sal bring.

Reutech staan die aansoek teen. Hy ontken dat CCII die eienaar van die toerusting is.

Reutech voer ook aan dat hy reeds meer as R14 miljoen aan CCII vir die toerusting betaal het.

Die saak voor regter André Blignault duur vandag voort.

Met erkenning aan Llewellyn Prince en Die Burger.