Jacobs, Alias Hassan Osman |
Publication |
Rapport |
Date | 2003-11-29 |
Reporter |
Pieter Malan |
Web Link |
Bheki Jacobs, die man wat verlede naweek in Kaapstad in hegtenis geneem is omdat vermoed word dat hy by 'n vreemde komplot betrokke is om pres. Thabo Mbeki te vermoor, het self 'n persoonlike geskiedenis wat aan die bisarre grens.
Niks aan Jacobs is voor die hand liggend nie en selfs sy ware identiteit is soms die onderwerp van debat.
Jacobs het Vrydag ná sy hofverskyning die kwessie van sy "ware identiteit" soos volg verduidelik:
Hy is 41 jaar gelede in Kaapstad gebore as Hassan Solomon, die seun van mnr. Mustapha en mev. Rookaya Solomon.
Bheki sê kort voordat hy skool toe is, het sy ma, 'n Indiër, besluit om haar kinders onder haar nooiensvan te laat registreer sodat hulle na 'n Indiër-skool kan gaan omdat sy geglo het die opleiding daar is beter. Die jong Hassan Solomon het toe Hassan Osman geword.
Ná skool het hy weer sy pa se van aangeneem en as Hassan Solomon in die vroeë jare tagtig by die bevrydingstryd betrokke geraak. In 1982 het hy ondergronds begin werk, maar nadat die Veiligheidspolisie op sy spoor gekom het, het die wêreld vir hom begin warm word en hy moes 'n manier kry om uit die land te kom.
Rondom 1983 besluit hy toe om sy naam wettig te verander in Uranin Vladimir Dzerzhinsky Joseph Solomon. Die keuse van name was deel van 'n berekende kans. Dzerzhinsky was die stigter van een van die KGB-voorgangers en Hassan Solomon het geglo die Veiligheidspolisie sou dit besef en aanvaar dat geen ANC-operateur só dom sou wees om so 'n ooglopende naam vir homself te kies nie.
Sy taktiek het gewerk en met 'n nuwe naam en paspoort het hy landuit gevlug - eers na Mauritius en toe na Lusaka, waar die ANC al sy identiteitsdokumente van hom weggeneem en hy wéér 'n nuwe naam gekry het - sy sogenaamde struggle-naam, Bheki Jacobs, die naam waaronder die meeste mense hom vandag ken.
Hy is daarna na Moskou, waar hy gestudeer het, en in November 1994 het hy na Suid-Afrika teruggekeer onder die naam Uranin Solomon - die naam wat amptelik langs sy ID-nommer in die bevolkingsregister staan.
In die nuwe Suid-Afrika het hy egter vir die inligtingsgemeenskap begin werk en dit het in 'n stadium vir hom nodig geword om onder 'n vals naam na Noord-Afrika te reis. Vir dié reis na 'n Moslem-bestemming het hy sy ou skoolnaam, Hassan Osman, afgestof en met die geboortesertifikaat wat sy ma vir hom gekry het kort voordat hy skool toe is om 'n identiteitsboek en paspoort aansoek gedoen.
Dit is dié dokumente wat verlede week in 'n polisieklopjag by sy huis gekry is. Jacobs sê hy het die departement van binnelandse sake al in Junie 2001 in kennis gestel dat hy 'n paspoort onder 'n vals naam besit. "Ek is dus oortuig dat ek onskuldig is aan die bedrogklag teen my. Ek het die dokumente en korrespondensie aan binnelandse sake om dit te bewys."
Met erkenning aan Pieter Malan en die Rapport.