Joernalis Weier Getuienis Oor Ngcuka |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-10-10 |
Reporter |
Sapa |
Web Link |
Johannesburg. - Getuies wat deur die Hefer-kommissie van ondersoek opgeroep word, mag nie weier om te getuig of om vrae te beantwoord nie, sê mnr. John Bacon, sekretaris.
Hulle mag wel vra om nie geïdentifiseer te word nie en in camera te getuig.
Die kommissie, onder leiding van oudregter Joos Hefer, ondersoek bewerings dat adv. Bulelani Ngcuka, direkteur van openbare vervolging, 'n spioen vir die apartheidsregering was.
'n Lys van getuies wat opgeroep sal word, is nog nie uitgereik nie.
Ranjeni Munusamy, joernalis, weier om voor die kommissie te getuig. Sy sê die kommissie se sekretariaat het haar ingelig dat sy as getuie opgeroep gaan word, al is sy nog nie gedagvaar nie.
"Ek weier op grond van die joernalistieke beginsel om jou bronne te beskerm, wat voorrang bo alles geniet."
Munusamy het 'n artikel in die Sondagblad City Press geskryf waarluidens die ANC Ngcuka as 'n spioen in die vorige bedeling ondersoek het.
Die Suid-Afrikaanse nasionale redakteursforum (Sanef), die Freedom of Expression Institute (FXI) en die Media-instituut van Suider-Afrika steun haar weiering. "Mediavryheid kan vernietig word as joernaliste gedwing word om vertroulike bronne te identifiseer," lui hul gesamentlike verklaring.
Met erkenning aan Sapa en Die Burger.