Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-10-08 Reporter: Kommentaar Verslaggewer

Korrupsie

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-10-08

Reporter

Kommentaar Verslaggewer

Web Link

www.news24.com/Die_Burger/

 

Afgesien van die morele aspekte daaraan verbonde, is daar 'n baie goeie praktiese rede waarom korrupsie vinnig, doelgerig en meedoënloos beveg moet word. Alle instansies wat iets van die saak weet, van die Wêreldbank tot die drukgroep Transparency International, wys daarop dat korrupsie ontwikkeling in die wiele ry.

Feit is dat korrupte amptenare of sakelui 'n deel van die geld wat vir ontwikkeling bestem is, na hul eie sakke afkeer. En aangesien dit uiteindelik die hele land en die hele gemeenskap benadeel, tref dit die korruptes onregstreeks ook.

Dis daarom verblydend dat 'n forensiese ondersoek van die Wes-Kaapse provinsiale regering 'n reeks korrupte praktyke in die streek se behuisingsdepartement blootgelê het. Vyf senior amptenare word betrek by die beweerde ongerymdhede wat tot R17 miljoen kan beloop.

Die saak kan nou na die Skerpioene vir verdere ondersoek verwys word.

Dit sou maklik - en enigsins goedkoop - wees om daaroor te kraai en die provinsiale regering in die beskuldigdebank te plaas. Natuurlik moet die regering die politieke verantwoordelikheid dra. Maar klaarblyklik het sy veiligheidsmeganismes gewerk en word stappe gedoen om die beweerde skuldiges aan die pen te laat ry.

Korrupsie, soos armoede, sal waarskynlik maar altyd met die mensdom wees. Die vraag is hoe doeltreffend dit beveg word.

Die allerbeste instrument daarvoor is die demokrasie. Dis net in 'n situasie waar openheid en deursigtigheid 'n ononderhandelbare beginsel is, waar ongerymdhede in die oopte geruk kan word.

Gelukkig is Suid-Afrika - en die Wes-Kaap - 'n demokrasie. Daarsonder sou die toekoms baie donkerder gewees het.

Met erkenning aan Die Burger.