Brandpunt : Wie het die Bier Gemors in dié Kroeggeveg? |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-10-15 |
Reporter |
Willem Jordaan |
Web Link |
Die kroeggeveg in die hoogste gestoeltes van die ANC het vandeesweek sy eerste slagoffer geëis met dr. Penuell Maduna, minister van justisie, wat aangedui het sy fut is uit en hy wil nie aanstaande jaar terugkeer na die kabinet nie.
"Die ANC kry baie seer," het Maduna gesê. "Soveel skade is reeds aangerig. Families kry swaar. Hulle kan nie meer nie."
Maduna se verrassende aankondiging is die duidelikste aanduiding tot nog toe dat die bewerings van korrupsie en apartheidspioenasie wat oor en weer vlieg, onlosmaaklik deel is van die ernstigste interne twis in die ANC se tien jaar van regering.
Want Maduna het nie slegs te kenne gegee dat sy kabinetsverpligtinge, en sy verantwoordelikheid vir die kantoor van die openbare vervolger wat midde-in die twis staan, hom by breekpunt gebring het nie. Hy het dit ook onomwonde gestel dat hy hom nie as LP verkiesbaar gaan stel nie. Die boodskap hiermee is duidelik: "Dit is vir my nou onhoudbaar in die hoë gestoeltes van die ANC."
Maduna was egter doodstil oor wie nou eintlik wie se bier omgestamp het om die geveg oorspronklik te veroorsaak. Intussen word die waarheid toenemend versluier en verstrengel in beskuldigings en bewerings wat oor en weer geslinger word.
Op soek na só 'n antwoord is dit die moeite werd om eerstens te kyk na die politieke klimaat in die binnekringe van die ANC wat 'n vrugbare teelaarde geskep het vir die huidige geveg.
Mbeki bestuur land- en partysake vanuit 'n baie klein binnekring wat byvoorbeeld nie die hele kabinet insluit nie. Gepaardgaande hiermee was daar 'n sterk sentralisering van politieke mag, waar sommige van die verpligtinge van selfs adj.pres. Jacob Zuma se kantoor weggeneem is.
Dié proses sou waarskynlik 'n gevallestudie kon wees vir die verskynsel waarna die sosioloog Robert Michels vroeg in die vorige eeu verwys het as "die ystere wet van oligargie". Michels argumenteer dat elke organisasie noodwendig 'n klein groepie amptenare oplewer in wie die mag sentraliseer, maar wat nie in staat is om op die lang duur beheer te hou nie. Uiteindelik kom die klein binnekring onder die aanslag van die ontevredenes daarbuite.
Teen dié agtergrond is dit die moeite werd om te onthou dat die huidige geveg in die ANC voorafgegaan is deur sterk gissings dat Mbeki bo en behalwe die twee termyne wat die Grondwet hom gun, nog 'n derde termyn in die oog het. Dié gissings is op die voorgrond gestoot toe oudpres. Nelson Mandela oënskynlik uit die bloute gesê het hy sal nie wil glo dat Mbeki 'n derde termyn beplan nie.
'n Beperking op die aantal termyne wat 'n president kan dien, is juis een van die teenwigte wat kan sorg dat die ystergreep van Michels se wet van oligargie posvat. Daarom sou enige planne van Mbeki om sy termyn te verleng olie op die vuur van die uitgeslotenes wees.
En sou hy so iets beplan, sou hy dit net kon regkry met die onomwonde steun van 'n lojale adjunkpresident - 'n rol wat Jacob Zuma volgens alle aanduidings nie sou speel nie. Hy was buite die binnekring.
Hierdie sameloop van omstandighede kon toe die plofbare situasie skep waarbinne Zuma begin dink het die Skerpioene se ondersoek teen hom is deel van 'n veldtog om hom uit die weg te ruim.
Op sy beurt kon adv. Bulelani Ngcuka en sy Skerpioene dink Zuma se reaksie is 'n poging om met hul ondersoek in te meng.
Van daar af het die geveg soos 'n sneeubal gegroei, maar Mbeki - én ander wat weet wat die ware oorsaak van die geveg is - is doodstil hieroor.
Uit die geledere van die ANC is daar al talle stemme wat vra dat die president moet ingryp. Die vraag is: "Hoe?"
Alles dui daarop dat 'n ommekeer nie meer moontlik is nie, en dat die geveg nog warmer sal raak. Wanneer die Hefer-kommissie vandag met getuienis begin, kan nóg inligting op die lappe kom wat verskeie partye tot die geveg met rooi gesigte en vertrapte reputasies sal laat.
Hieraan kan Mbeki niks doen nie.
En volgens alle aanduidings doen die Skerpioene hul bes om nog getuienis te kry wat moontlik tot die vervolging van Zuma kan lei. Ook hieraan kan Mbeki niks doen nie. Die proses moet nou sy loop neem.
Wat Mbeki wel kan doen, is om nou te verklaar of hy planne het om vir 'n derde termyn as president te dien.
Beplan hy wel 'n derde termyn, sal 'n ope debat oor die wenslikheid van 'n derde termyn welkom wees. Veel eerder dít as 'n politieke magstryd met die instrumente en instellings van die staat as die wetende of onwetende pionne.
Beplan hy nie 'n derde termyn nie, verloor Mbeki niks deur dit onomwonde te sê nie. En boonop kan duidelikheid hieroor dalk nog die angel uit die geveg haal.
Sonder dié soort ope kommunikasie en gedeelde besluitneming is daar nog verskeie partye in die huidige kroeggeveg wat Maduna se lot sal moet deel.
Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.