Publication: Beeld Issued: Date: 2003-10-07 Reporter: Mandy Rossouw

Ngcuka Gaan LP-Nominasie Van Hand Wys

 

Publication 

Beeld

Date 2003-10-07

Reporter

Mandy Rossouw

Web Link

www.news24.com/Beeld

 

Die nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Bulelani Ngcuka, gaan sy nominasie om die ANC in die nasionale vergadering te verteenwoordig ná die volgende verkiesing, van die hand wys.

Ngcuka het by sy posaanvaarding in 1998 sy ANC-lidmaatskap opgesê en sal dus nie beskikbaar wees om enige amp te beklee nie, het mnr. Lungisa Byosi, regsadviseur in Ngcuka se departement, Dinsdag gesê.

Ngcuka is ingevolge die voorlopige nominasielyste wat die ANC Dinsdag in Johannesburg bekend gemaak het, deur minstens vyf ANC-takke in Gauteng genomineer om die party te verteenwoordig.

"Ngcuka het geen idee gehad dat hy genomineer is nie en sal definitief nie die nominasie aanvaar nie," het Byosi gesê.

Volgens mnr. Hope Papo, ANC-woordvoerder in Gauteng, is die voorlopige lyste die begin van die nominasieproses.

"Omdat die enigste kriterium is dat 'n persoon deur minstens vyf takke genomineer moet word, word verskeie mense genomineer wat nie noodwendig ANC-lede is of beskikbaar is nie weens hul posisies," het hy gesê.

"Die mense nomineer enige persone wat hulle as leiers sien en weet nie noodwendig of die persone beskikbaar is nie.

"Dit is egter duidelik dat hierdie mense gesien word as aktiviste en persone wat 'n bydrae gelewer het tot die demokratisering van ons land," het Papo gesê.

Volgens Papo word die lyste later vandeesmaand by 'n konferensie gefinaliseer.

Mnre. Willie Madisha en Zwelinzima Vavi, albei Cosatu-leiers, is ook genomineer saam met mnr. Blade Nzimande en dr. Jeremy Cronin van die SAKP.

Cronin het Dinsdagaand by navraag gesê daar is "geen twyfel" daaroor dat hy sy nominasie sal aanvaar nie.

Met erkenning aan Mandy Rossouw en Beeld.