'Magsbruik' Dalk Eintlike Tameletjie vir Ngcuka |
Publication | Beeld |
Date | 2003-11-20 |
Reporter |
Henry Jeffreys |
Web Link |
Die konvensionele wysheid oor die gebeure dié week by die Hefer-kommissie is dat mnre. Mac Maharaj en Moe Shaik se bewerings van spioenasie teen die nasionale direkteur van vervolgings, adv. Bulelani Ngcuka, skouspelagtig gevou het.
Dis moeilik om nié tot dié gevolgtrekking te kom nie, veral nie nadat sowel Maharaj as Shaik te kenne gegee het hulle het geen tasbare bewyse dat Ngcuka wel 'n spioen in diens van die ou apartheidsregering was nie.
Hulle het klaarblyklik tot die slotsom gekom dat hy wel een was, op grond van die soort evaluasies wat in die skaduwêreld van spioene dalk die toets van geloofwaardigheid sal slaag, maar sal sukkel (soos dit nou lyk) in 'n forensiese omgewing wat baie dieselfde is as 'n hof.
Die konvensionele wysheid praat ook reeds van 'n oorwinning vir Ngcuka en 'n vernedering vir veral Maharaj. Die konvensionele wysheid kan soms misleidend wees en Ngcuka sal wys wees om te wag voordat hy die vonkelwyn se kurk trek.
Oudregter Joos Hefer moet oor twee kwessies uitsluitsel gee: Was Ngcuka 'n spioen vir die apartheidsregering teen die ANC en het hy sy gesagsposisie misbruik om vetes met ou kamerade af te handel?
Dis moeilik om te sien hoe Hefer na dié week kan bevind dat Ngcuka inderdaad 'n spioen was. Op die tweede bewering staan Ngcuka egter op minder vaste grond en kan die vonke in die verloop van die kommissie nog spat.
En dit, sê mense wat Maharaj ken en steeds hoog ag, is waar hy sy pond vleis kan opeis.
Maharaj glo duidelik dat Ngcuka sy lewe en dié van mense na aan hom - persoonlik en in die politiek - vernietig het. Hy is 'n gekweste dier wat die bloed van sy aanvaller soek. Hy is ook een van die slimste politieke operateurs wat alles weet van vals seine opstuur en die eintlikes verdoesel. Dit is dus vreemd dat sy saak voor die kommissie so onbeholpe oorkom.
'n Joernalis wat Maharaj goed leer ken het tydens die grondwetlike onderhandelings by Kempton Park sê die oud-guerillavegter het 'n uitstekende vermoë om tot die kern van 'n saak deur te dring en oplossings vir probleme te kry. Hy is 'n man van aksie eerder as 'n intellektueel. Maar net 'n dwaas sal sy intellek onderskat.
Hy is ook 'n uitstekende strategiese denker wat 'n probleem behoorlik deurdink voordat hy optree. Hy neig ook om die oplossing van iets eerder as 'n proses te sien en nie as 'n enkele daad nie. Hy praat nie maklik met die media nie en hou nie van media-blootstelling nie.
En soos dit dié week tydens sy getuienis voor die Hefer-kommissie geblyk het, is sy eer en integriteit vir hom baie belangrik. Hy sal ook nie maklik iemand anders se eer en integriteit aantas nie. Dit aldus my joernalis-vriend.
Maharaj maak geen geheim daarvan nie dat sy behandeling deur die Skerpioene in hul ondersoeke van korrupsie teen hom en sy vrou, sentraal staan in sy veldtog teen Ngcuka. As die "getuigskrif" hierbo hom dus raak beskryf, is dit dalk net moontlik dat die spioen-aantygings die vals sein was om Ngcuka in die openbare domein te lok om onder kruisverhoor te antwoord op bewerings van magsmisbruik.
Ngcuka is nou in 'n posisie waar hy móét reageer op vrae oor magsmisbruik wat Maharaj in die kommissie geopper het.
Vrae soos hoe inligting oor Maharaj wat in Schabir Shaik (broer van Moe) se besit was en waarop die Skerpioene beslag gelê het, in die hande van 'n joernalis beland het wat hom (Maharaj) daarmee gekonfronteer het. Maharaj het ook aangevoer dat Ngcuka gerugte laat loop het dat mnr. Zweli Mkhize (LUR vir gesondheid in KZN) 'n wapensmokkelaar is, maar Mkhize nog nie daaroor aangekla het nie.
Hy verdink Ngcuka ook van magsmisbruik teen adj.pres. Jacob Zuma (wat reeds die openbare beskermer gevra het om Ngcuka daaroor te ondersoek), die premier van Noordwes, mnr. Popo Molefe, wat verdink is van kindermolestering, maar ook nooit aangekla is nie.
Een van die kwessies wat Ngcuka beslis ook in die kommissie sal moet aanspreek, is sy beweerde beïnvloeding van 'n groep swart redakteurs teen opponente soos Maharaj in daardie nou berugte vertroulike agtergrondinligtingsessie.
Die idee dat Maharaj en Shaik die laaste kan lag in dié sage klink vergesog. Maar dan weer: in die skaduwêreld van spioene en politieke operateurs is enigiets moontlik.
Met erkenning aan Henry Jeffreys en Beeld.