Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-10-14 Reporter: Mandy Rossouw, Jeanne-Marie Versluis

Maharaj Doen Vandag Sy Voorlegging Voor Hefer

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-10-14

Reporter

Mandy Rossouw, Jeanne-Marie Versluis

Web Link

www.news24.com/Die_Burger/

 

Bloemfontein - Die Hefer-kommissie van ondersoek wat spioenasie-aantygings teen adv. Bulelani Ngcuka, nasionale direkteur van openbare vervolging, ondersoek, gaan vandag waarskynlik drie voorleggings op sy eerste dag van werksaamhede hier aanhoor.

Een van die voorleggings gaan gelewer word deur mnr. Mac Maharaj, voormalige minister wat die spioenasie-aantygings gemaak het in 'n berig wat deur City Press gepubliseer is.

Die ander twee gaan gelewer word deur mnre. Mo Shaik, voormalige ANC-spioen, en Raymond Louw van die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef), het mnr. John Bacon, sekretaris van die kommissie, gister gesê.

Die kommissie, wat om 09:00 sy werk in hof 1 van die appèlhof in die stad gaan begin, word gelei deur oudregter Joos Hefer, 'n voormalige hoofregter wat einde verlede jaar uitgetree het.

Volgens Bacon sal die voorleggings nie in kamers aangehoor word nie. Hefer se bevindings hieroor kan voorbehou word.

Hy het gesê die "eerste getuie" wat môre opgeroep word, is Ranjeni Munusamy, voormalige joernalis van die Sunday Times wat die eerste berig oor die spioenasie-bewerings teen Ngcuka geskryf het.

Sy is gedagvaar om te getuig.

Samesprekings word gevoer met die redakteur van City Press, waarin dié berig verskyn het, en die redakteur van die Sunday Times.

Die Sunday Times wou destyds nie die berig oor Ngcuka publiseer nie en Munusamy het dit daarna aan City Press laat uitlek.

Hefer sal met Sanef, die Freedom of Expression Institute (FXI) en die Media-instituut vir Suider-Afrika (Misa) vergader om die moontlike terugtrekking van Munusamy se dagvaarding te bespreek.

Me. Patricia de Lille, leier van die Onafhanklike Demokrate (OD), het Maandag gesê haar prokureur is in samesprekings met die kommissie gewikkel oor die moontlikheid dat sy gevra sal word om te getuig.

Sy het destyds in die parlement 'n lys voorgelê met die name van beweerde apartheidspioene, waaronder dié van dr. Penuell Maduna, minister van justisie. Sy het 'n ondersoek na hul bedrywighede geëis. "As hulle my vra om te getuig, sal ek," het sy verklaar.

Met erkenning aan Mandy Rossouw, Jeanne-Marie Versluis en Die Burger.