Mbeki Raadpleeg Maduna Voor Besluit |
Publication |
Die Burger |
Date | 2003-11-13 |
Reporter |
Willem Jordaan |
Web Link |
Kaapstad. - Pres. Thabo Mbeki het oorleg gepleeg met dr. Penuell Maduna, minister van justisie, voor sy besluit om dié minister uit te sluit van die Hefer-kommissie se ondersoekmandaat.
Maduna het gisteraand aan Die Burger gesê hy berus in Mbeki se besluit. Vrae oor of Maduna sou akkoord gaan met die nuwe ondersoekraamwerk, het ontstaan nadat Mbeki dit Dinsdag 'n tweede keer gewysig het en Maduna daarmee uitgesluit het van die ondersoek na apartheidspioenasie en magsmisbruik.
Toe Mbeki die mandaat 'n eerste keer verander het, was dit om Maduna in te sluit en volgens Maduna het hy Mbeki self gevra om dit te doen.
Op die vraag oor waarom sy verlede oënskynlik nou nie meer ter sake is nie, het Maduna gesê "dit is sinloos om in dié stadium op die kwessie te fokus, omdat belangriker sake aan die bod is".
Maduna, wat byna van meet af aan in die middelpunt was van die voortslepende twis tussen adj.pres. Jacob Zuma en adv. Bulelani Ngcuka, die openbare vervolger, het ook verdere lig gewerp op die redes vir Mbeki se besluit om die mandaat 'n tweede keer te wysig.
Volgens Maduna het Mbeki aan hom verduidelik dat die huidige ondersoekmandaat te wyd is en dat dit "nou nodig is om eerder te konsentreer op die bewerings van twee mense (mnre. Mo Shaik en Mac Maharaj) en een joernalis (me. Ranjeni Munusamy)".
Die nuwe mandaat beperk die ondersoek tot bewerings deur Maharaj, voormalige minister van vervoer, en Shaik, adviseur van die minister van buitelandse sake, dat Ngcuka 'n spioen was.
Luidens 'n verklaring wat Dinsdag deur die presidensie uitgereik is, is die verandering in die mandaat nodig om uit te klaar dat daar nie van die kommissie verwag word om vas te stel of Maduna 'n agent vir die apartheidsregering was nie en dat die beweerde magsmisbruik net op Ngcuka betrekking het.
Intussen het me. Sheila Camerer, DA-woordvoerder oor justisie, gesê die verdelgingsoorlog tussen Zuma aan die een kant, en Maduna en Ngcuka aan die ander kant, word by die dag vreemder.
Sy meen Mbeki se inperking van die ondersoek is 'n poging om die Hefer-ondersoek te bespoedig en af te handel voordat die ANC se verkiesingsveldtog op dreef kom.
Maduna het sedert sy aanvanklike versoek aan Mbeki om die mandaat uit te brei, laat blyk dat hy volgende jaar uit die kabinet wil tree. Camerer het Maduna gister in die Nasionale Vergadering gevra of dit steeds sy voorneme is. Hy het geswyg.
Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.