Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-10-15 Reporter: JanJan Joubert, Willem Jordaan

Tony Leon Vra President Moet die Ondersoek Uitbrei

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-10-15

Reporter

JanJan Joubert, Willem Jordaan

Web Link

www.news24.com/Die_Burger/

 

Kaapstad - Mnr. Tony Leon, DA-leier, het pres. Thabo Mbeki per brief gevra om die Hefer-kommissie se mandaat uit te brei om ondersoek in te stel of die drie hoofkarakters in die bewerings dat die adjunkpresident omkoopgeld uitgelok het, hul magte misbruik het.

Tans is die mandaat van die kommissie om te ondersoek of adv. Bulelani Ngcuka, direkteur van openbare vervolging, 'n spioen was vir die apartheidstaat en of hy en dr. Penuell Maduna, minister van justisie, hul ampte misbruik het weens verpligtinge teenoor die apartheidstaat.

As Leon se voorstel aanvaar word, sal regter Joos Hefer se mandaat ook die volgende insluit:

"Die kommissie sal ondersoek, bevindings doen, verslag lewer en aanbevelings doen oor of die adjunkpresident, die minister van justisie en die direkteur van nasionale vervolging, regstreeks of onregstreeks, wederregtelik hul posisies om enige rede misbruik het."

Die rede wat Leon en mev. Sheila Camerer, DA-LP, gister op 'n parlementêre mediakonferensie aangevoer het, is dat die Hefer-kommissie tans handel oor kwessies wat reeds afgehandel is en wat eintlik interne ANC-probleme is.

Hulle wil eerder hê spesifiek Zuma en Maduna moet die geleentheid kry om hul saak te stel oor bewerings van korrupsie tydens die regering se wapentransaksie (Zuma) en beweerde korrupsie in die kantoor van die meester van die hooggeregshof (Maduna).

Dit val binne Mbeki se mag om die mandaat van die kommissie uit te brei, en hy het dit ook al 'n keer gedoen, toe hy Hefer gevra het om bewerings oor Maduna te ondersoek.

Volgens Leon word die land se vertroue in die regstelsel tans ondermyn, en sal die voorgestelde uitbreiding van die mandaat dié neiging teenwerk.

Hy het gevra dat Mbeki begin leiding gee oor die omstredenheid. "As Mbeki nie die onsekerheid in die kiem smoor nie, word die hele regstelsel in die kiem gesmoor. Probleme van die verlede kry blykbaar nou voorkeur," het hy gesê.

Camerer het gesê bloot die motiewe agter die bewerings word ondersoek.

Teen gistermiddag het Mbeki, wat op 'n staatsbesoek aan Indië is, nog nie kennis gehad van Leon se versoek nie, volgens sy woordvoerder, mnr. Bheki Khumalo.

Met erkenning aan Jan-Jan Joubert, Willem Jordaan en Die Burger.