SA Media Maak Rug Styf Ná Joernalis Gedagvaar Word |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-10-12 |
Reporter |
Jan-Jan Joubert |
Web Link |
Kaapstad - Die Suid-Afrikaanse media het hul rug styfgemaak teen die dagvaarding van die joernalis Ranjeni Munusamy om te getuig voor die Hefer-kommissie, en het 'n vergadering met oudregter Joos Hefer aangevra om dié kwessie te bespreek.
Die Hefer-kommissie is deur pres. Thabo Mbeki aangestel om bewerings te ondersoek dat adv. Bulelani Ngcuka, nasionale direkteur van openbare vervolging, 'n spioen vir die apartheidsregering was.
Die kommissie ondersoek soortgelyke bewerings teen dr. Penuell Maduna, minister van justisie.
Munusamy het, terwyl sy by die Sunday Times gewerk het, 'n artikel in die Sondagkoerant City Press geskryf wat die spioenasiebewerings teen Ngcuka in die openbare oog gebring het. Sy het daarna by die Sunday Times bedank.
Sy weier om te getuig voor die kommissie, wat Woensdag in Bloemfontein met sy werksaamhede begin, en word hierin ondersteun deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef), die Freedom of Expression Institute (FXI) en die Suid-Afrikaanse afdeling van die Media-instituut van Suider-Afrika (Misa).
Mnr. Henry Jeffreys, Sanef-voorsitter, het gesê 'n vergadering is met Hefer versoek. Hefer het by navraag gesê Sanef is welkom om in Bloemfontein met hom te vergader.
Sanef, die FXI en Misa is daarteen gekant dat joernaliste na veral die identiteit van vertroulike bronne gevra word. Hulle ondersteun Munusamy omdat getuienis haar bronne in gevaar sal stel en omdat dit grondwetlike bepalings oor mediavryheid bedreig.
Die drie organisasies het uitgewys dat 'n verpligting op 'n joernalis om te getuig, inligting te verskaf, dokumente te oorhandig of vertroulike bronne te openbaar, met die grondwet bots. Boonop word ingemeng met die publiek se reg om ingelig te word.
"As joernaliste gedwing word om te getuig, sal vertroulike bronne opdroog soos mense vertroue verloor in die media se beloftes om inligting vertroulik te hanteer, uit vrees dat hulle (die bronne) voor die hof gedaag kan word," het Jeffreys verduidelik.
"Dit kan joernaliste ook afskrik om omstrede berigte te skryf. Hoewel die Hefer-kommissie dagvaardings kan uitreik om te verseker dat reg geskied, hoef dit nie 'n fundamentele reg soos mediavryheid aan te tas nie. Die kommissie het nie aangedui dat daar geen ander manier is om die inligting te bekom nie."
Met verwysing na die Kommissiewet meen Sanef, die FXI en Misa joernaliste het genoegsame rede om getuienis te weier as mediavryheid in die gedrang is. Om getuienis in camera aan te hoor, is nie genoegsaam om joernaliste daarvan te vrywaar om as informante bekend te staan nie.
Met erkenning aan Jan-Jan Joubert en Die Burger.