Shaik Toegelaat om in Grondwethof te Praat |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-10-10 |
Reporter |
Philip de Bruin |
Web Link |
Johannesburg - Hoofregter Arthur Chaskalson het beslis dat die omstrede Durbanse sakeman mnr. Schabir Shaik toegelaat moet word om die konstitusionele hof toe te spreek oor die grondwetlikheid van die ondervraging van verdagtes voor hul inhegtenisneming.
Shaik is, nadat hy die aansoek by die konstitusionele hof ingedien het, in hegtenis geneem op verskeie aanklagte wat met die regering se omstrede wapentransaksie verband hou. Dit is juis in verband daarmee wat die Skerpioene hom voor sy inhegtenisneming wou ondervra.
Die ondersoek teen hom en sy beweerde bande met adj.pres. Jacob Zuma het weke lank die nuus oorheers.
Shaik het in 'n dringende aansoek in die Durbanse hooggeregshof aangevoer dat so 'n ondervraging ingevolge die Wet op Georganiseerde Misdaad sy grondwetlike reg op stilswye skend. Die hooggeregshof het egter beveel dat die ondervraging mag voortgaan en Shaik het sy aansoek om appèl in die konstitusionele hof gebring.
Die staat het in hofstukke in dié hof aangevoer dat die hof nie die aansoek behoort aan te hoor nie, omdat dit bloot nog van akademiese belang is. Shaik is intussen in hegtenis geneem en daar bestaan dus geen moontlikheid dat hy voor sy inhegtenisneming ondervra sal word nie.
Die teenargument was dat die konstitusionele hof betrek moet word in belang van alle toekomstige verdagtes wat voor inhegtenisneming aan ondervragings onderwerp kan word.
Mondelinge betoog moet op 11 November gelewer word oor die meriete van die aansoek om appèl en die meriete van die saak. Shaik moet voor 23 Oktober geskrewe betooghoofde indien en die staat voor 4 November.
Met erkenning aan Philip de Bruin en Die Burger.