Brandpunt : Staat Moet Weer Besin Oor Stryd Teen Korrupsie |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-10-29 |
Reporter |
Willem Jordaan |
Web Link |
In pres. Thabo Mbeki se bekende gewoonte om wyd te lees, het hy nie juis 'n voorliefde vir berigte in die media oor korrupsie in regeringsgeledere nie. Só het hy onlangs die media uitgekryt vir "vissers van korruptes".
Maar selfs al het Mbeki 'n broertjie dood aan dié soort berigte en die opposisie se dikwels hooghartige morele kritiek wat daarop volg, het drie verslae onlangs die lig gesien wat hy gerus as leesstof kan saamneem op een van sy buitelandse besoeke.
Want midde-in die onbeantwoorde vrae oor of adj.pres. Jacob Zuma by korrupsie betrokke was, laat dié drie verslae ewe belangrike vrae ontstaan oor die regering se verbintenis tot die stryd teen korrupsie.
Die mees onlangse verslag, wat Mbeki sekerlik al gelees het, is Towards a ten-year review, die regering se eie prestasiebeoordeling van wat hy in die eerste tien jaar van demokrasie vermag het.
In dié verslag word al die lofwaardige stappe wat die regering teen korrupsie gedoen het, gelys: Daar was 'n hersiening van wetgewing teen korrupsie, verklikkingsmeganismes is ingestel, en spesiale howe is in die lewe geroep om korrupsiesake aan te hoor.
Hierbenewens is die regering ook besig met stappe om bepaalde individue en organisasies op swartlyste te plaas, inbellyne teen korrupsie, die instel van meer doeltreffende optrede teen korrupte amptenare, en die bevordering van bestuurspraktyke gegrond op 'n gesonde etiese grondslag.
Ondanks dié lofwaardige stappe kom die regering tot die gevolgtrekking dat hy maar betreklik stadig vorder in die stryd teen korrupsie. Intussen kos korrupsie Suid-Afrika na raming jaarliks R40 miljard, en daarom is die stadige vordering ernstige rede tot kommer. Dié bedrag kom immers daarop neer dat elke man, vrou en kind in Suid-Afrika jaarliks amper R1 000 in staatsbesteding ontneem word.
Maar om die stuipe te kry in morele verontwaardiging, soos die opposisiepartye graag doen ter wille van 'n paar politieke punte, gaan bitter min aan dié toedrag van sake verander. Daarom is dit jammer dat die regering nie sélf 'n deurdagte ontleding aanbied oor waarom hy so stadig vorder, en wat hy nog kan doen om tekortkomings reg te stel nie.
In die tweede verslag, Government ethics in post-apartheid South-Africa, kom die Instituut vir Demokrasie in Suid-Afrika (Idasa) wel met 'n reeks konkrete voorstelle vorendag.
Idasa vra vir bykomende beperkings op die poste en inkomstebronne van politici vir 'n bepaalde tydperk nadat hulle hul openbare poste ontruim het. Verder wys hy uit dat die strawwe wat oortreders opgelê kan word, nie voldoende omskryf word nie. En boonop kan oortreders strawwe systap deur doodeenvoudig hul poste te verlaat.
Die belangrikste gevolgtrekking is egter dat Suid-Afrika se regulasies teen politieke korrupsie en botsende belange onvoldoende is, en dat wydverspreide onkunde heers oor die maatreëls wat wel bestaan.
Wat betref dié onkunde het 'n sprekende voorbeeld opgeduik in 'n derde verslag, en ongelukkig is die hoogste gestoeltes van die regering hier ter sprake. Daarom is ook dié verslag verpligte leesstof vir Mbeki.
In sy verslag oor of die adjunkpresident sy belange verklaar het in die kabinet se register, spreek die openbare beskermer ernstige kommer uit oor die onvolledigheid en ander tekortkominge in dié register.
"Gedurende die ondersoek is daar met kommer kennis daarvan geneem dat die stand van die huidige register verwarring veroorsaak oor waar en in hoeveel besonderhede belange verklaar moet word," skryf mnr. Lawrence Mushwana, die OB.
"Besonderhede soos datums van verklarings, waarde van belange, adresse van woonhuise, die omvang van skuld, die bron en waarde van pensioene word nie nougeset deur die sekretaris aangeteken nie."
Dié sekretaris is eerw. Frank Chikane, as die direkteur-generaal in die presidensie een van Mbeki se regterhande wat tot nog toe geen openbare verduideliking aangebied het oor die gebrekkige stand van sy register, en hoe dit reggestel gaan word nie.
Hoe moet korrupsie dan in die ganse staatsdiens op nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlak getakel word as die kabinet self onbewus is van die maatreëls waaraan hulle onderworpe is, of dié maatreëls oënskynlik lukraak ignoreer?
Die antwoord is dat korrupsie nie uitgeroei kan word voordat die regering nie lei by wyse van voorbeeld nie.
Want as die regering hom bloot nie steur aan die maatreëls wat hy self ingestel het nie, is daar geen rede vir enigiemand anders om dié maatreëls te gehoorsaam nie. So lank dít die geval is, bly al die lofwaardige maatreëls wat hy so indrukwekkend in sy eie prestasiebeoordeling opnoem, bloot papiertiere.
En op die ou end is dié duur papiertiere dan net so ondoeltreffend as goedkoop, hooghartige morele verontwaardiging oor die omvang van korrupsie in regeringsgeledere.
Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.