Oor Zuma sal Mbeki Sukkel om te Besluit |
Publication | Die Burger |
Date | 2003-11-05 |
Reporter |
Willem Jordaan |
Web Link |
Druk op die ANC om 'n besluit te neem oor die politieke toekoms van adj.pres. Jacob Zuma is besig om stilweg toe te neem.
Te midde van oudregter Joos Hefer se ondersoek na die spioenasiebewerings teen die openbare vervolger en Zuma se jongste aartsvyand, adv. Bulelani Ngcuka, kan dit wel lyk of die politieke kollig ietwat van die adjunkpresident weggeskuif het. Dit is egter allermins die geval, omdat die ANC se saamstel van kandidatelyste die kwessie nou weer op die voorgrond stoot.
Ofskoon dié lysproses glad nie 'n klinkklare aanduiding is van wie in watter posisie in die wegspringblokke gaan staan nie, is dit wel 'n barometer van die steun wat ANC-politici binne die laer strukture geniet.
Aan die hand van dié barometer het Zuma seker rede om te glo dat hy die politieke storm om sy kop gaan oorleef. Ngcuka se standpunt dat daar 'n prima facie-saak van korrupsie teen hom is, het oënskynlik nie sy tol geëis nie, en op die meeste provinsies se lyste staan hy steeds stewig.
Op die lys van die Vrystaat, 'n provinsie waar talle ANC-swaargewigte nog verbitter en gekneus is ná hewige binnegevegte in die verlede en daaropvolgende ingrypings van Mbeki en die ANC-leierskap, staan Zuma eerste. Mbeki is in die vierde plek.
Dan is daar KwaZulu-Natal, Zuma se politieke vesting. Die trant van gesprekke in die ANC dui daarop dat Zuma hier ook eerste sal staan. En wat meer is, dit lyk asof Mbeki dalk ook hier heelwat laer af sal wees.
Nou moet mens onthou dat posisies uiteindelik 'n onbeduidende rol speel in die saamstel van die ANC se nasionale lys vir parlementskandidate. Uiteindelik bepaal die ANC se nasionale leierskap die posisies op lyste en Mbeki wys self sy adjunk aan.
Maar dit is juis hier waar die kabel kinkel en die ANC se nasionale leierskap voor 'n moeilike keuse te staan kom.
Die ANC, Mbeki inkluis, het tot dusver voet by stuk gehou dat daar geen rede vir Zuma is om te bedank nie. Hy word onskuldig gereken tot tyd en wyl hy skuldig bewys is, en daarmee basta! Tesame hiermee het die onderskeie provinsies hul voorkeure laat blyk en Zuma staan sterk. In sommige gevalle selfs sterker as Mbeki.
Maar 'n gans ander kwessie kom nou aan die bod. Die vraag is nie meer of Zuma moet bedank nie: die vraag is nou of die nasionale leierskap hom gaan reken as geskikte kandidaat om 'n tweede termyn as adjunkpresident te dien wanneer hy besluit oor waar Zuma op die nasionale lys staan.
Hiermee kom 'n veeltal politieke risiko's aan die bod wat Mbeki en die ANC-leierskap deeglik sal moet verreken voordat hulle 'n besluit neem.
In die eerste plek sal Mbeki maar alte goed weet dat daar steeds 'n swaard oor Zuma se kop hang ondanks die feit dat Ngcuka besluit het om hom nie te vervolg nie. Die openbare vervolger het dit deurgaans duidelik gemaak dat 'n suksesvolle vervolging sal afhang van getuienis wat nog bekom moet word. Intussen word alles in die stryd gewerp om die getuienis te bekom.
Indien Mbeki en die ANC-leierskap wel hul vertroue in Zuma stel deur hom 'n kans te gee vir 'n tweede ronde as adjunkpresident, kan dit hulle suur bekom. Want as Zuma wel vervolg en veroordeel word nadat die verantwoordelikheid van 'n tweede termyn aan hom toevertrou is, sal die ANC plaaslik en internasionaal aansien moet inboet.
Hoe gaan Mbeki-hulle in só 'n geval verduidelik waarom hulle Zuma 'n tweede kans gegee het met die swaard van korrupsie wat deurentyd oor sy kop gehang het?
Selfs al word Zuma nie vervolg nie, sal die hofsaak teen sy vertroueling en finansiële raadgewer, mnr. Schabir Shaik, eersdaags begin momentum opbou. Die moontlikheid dat nóg getuienis kan opduik wat Zuma en ander hoë regeringslui met rooi gesigte sal laat, bestaan beslis.
Aan die ander kant kan Mbeki en sy leierskap besluit om Zuma se draadjie te knip en hom nie 'n tweede termyn as adjunkpresident te gee nie. Maar só 'n besluit het sy eie risiko's, want Mbeki-hulle sal moet weet daar is sekerlik 'n beduidende kans dat Zuma nooit vervolg sal word nie. Te midde van Zuma-ondersteuners wat Mbeki reeds daarvan verdink dat hy agter Ngcuka se bewerings teen die adjunkpresident sit, gaan dit olie op die vuur wees as Mbeki Zuma lossny en dié besluit blyk later ongegrond te wees.
In só 'n geval kan Mbeki steun binne die ANC inboet en aan Zuma 'n uitstekende kans gee om Mbeki in 2007 uit te daag as president van die ANC. Slaag hy hiermee, is daar 'n groot moontlikheid dat Zuma Mbeki in 2009 as president van die land kan opvolg. Dít is die laaste ding wat Mbeki wil hê.
Intussen het Zuma dit duidelik gemaak dat hy glad nie van voorneme is om sake vir Mbeki makliker te maak deur voorlopig terug te staan nie. Hy wil die stryd end-uit baklei.
Dus: Wat Jacob Zuma se toekoms betref, staan Mbeki en die ANC nou tussen die duiwel en die diep blou see.
Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.