Publication: Die Burger Issued: Date: 2003-10-19 Reporter: Mandy Rossouw

'Mbeki se Swakheid Strem Ondersoek'

 

Publication 

Die Burger

Date 2003-10-19

Reporter

Mandy Rossouw

Web Link

www.news24.com/Die_Burger/

 

Johannesburg - Die opposisieleier, mnr. Tony Leon van die Demokratiese Alliansie (DA), sê pres. Thabo Mbeki se "swakheid" verhoed dat hy die kwessie rakende korrupsie in die multimiljardrand-wapentransaksie doeltreffend benader.

Leon het gereageer op Mbeki se uitspraak uit Moembaai, Indië, volgens 'n Sondagkoerant dat hy nie die mandaat van die Heferkommissie gaan uitbrei om 'n ondersoek na adj.pres. Jacob Zuma in te sluit nie.

Die DA het gevra dat die Heferkommissie, wat deur Mbeki aangestel is, moet kyk na aantygings van korrupsie en omkopery waarby Zuma dalk betrokke is. Leon beskuldig Mbeki daarvan dat hy die "ware kwessie - aantygings van ernstig korrupsie in die geledere van ANC-hooggeplaastes" - uit die oog verloor.

Hy het onderneem om 'n spesiale debat aan te vra in die parlement waar die president die optrede van sy kabinetslede kan verduidelik.

Oudregter Hefer het verlede week bevestig dat Zuma gevra is om voor die kommissie te getuig, maar geen antwoord is nog ontvang nie.

Die Heferkommissie ondersoek aantygings dat adv. Bulelani Ngcuka, nasionale direkteur van openbare vervolging, en dr. Penuell Maduna, minister van justisie, spioene vir die apartheidsregering was.

Daar word ook gekyk of hulle die kantoor vir openbare vervolging gebruik het om "eertydse verpligtinge" teenoor apartheidsleiers na te kom.

Die kommissie, wat verlede week begin sit het, kon nog nie getuienis aanhoor nie weens besware wat aangeteken is deur die hoofklaers, mnre. Mac Maharaj, voormalige minister van vervoer, en Mo Shaik, voormalige ANC-spioen en raadgewer in die departement van buitelandse sake.

Maharaj en Shaik het die kommissie gevra om dokumente by regeringsinstansies aan te vra waartoe hulle nie toegang het nie.

Volgens mnr. John Bacon, sekretaris vir die kommissie, vergader Hefer vandag met die prokureurs van die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA), die Suid-Afrikaanse Geheime Diens (SS) en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om "sekere kwessies op te klaar" oor dokumente wat die kommissie van dié agentskappe vereis.

Die regsfirma Maluleke Seriti Makume Matlala het in 'n verklaring gesê die reg "verbied (die agentskappe) om direk of indirek bronne en metodes van ondersoek" bekend te maak.

"Ons wil net weet of die agentskappe inligting het wat sal wys of Bulelani (Ngcuka) 'n spioen was of nie," het Bacon gesê.

Me. Ranjeni Munusamy, voormalige politieke joernalis van die Sunday Times, sal teen Vrydag 'n hoogeregshofaansoek indien om haar van getuienis voor die kommissie kwyt te skeld.

Met erkenning aan Mandy Rossouw en Die Burger.