Korvette kan Tandvis Dalk nie Meer Red |
Publication |
Die Burger |
Date | 2003-11-14 |
Reporter |
Malixole Gwatyu |
Web Link |
Kaapstad - Teen die tyd dat Suid-Afrika se volle versending korvette in die land aankom, kan dit te laat wees om die bedreigde Patagoniese tandvis te red.
Só het dr. Deon Nel, marieneprojekbestuurder van die bewaringsgroep WWF-SA , gister gesê.
Die SAS Amatola was verlede week die eerste van die vier nuwe korvette wat as deel van die regering se omstrede wapentransaksie aangekoop is, wat in die land aangekom het.
WWF-SA meen egter dat hul koms baie min sal beteken tensy hulle so gou moontlik ontplooi word om die land se kosbare mariene bronne te beskerm. Volgens Nel is daar 'n "kritieke dringendheid" om die SAS Amatola en die ander korvette aan die kus te ontplooi om veral die Patagoniese tandvis teen roekelose stroping te beskerm.
Na raming het die onwettige, ongereguleerde en onvermelde vangste van dié vissoort in die omgewing van Suid-Afrika se Prins Eduard-eilande die land sedert 1996 R3 miljard gekos. "Dit is belangrik om nie uit die oog te verloor dat die stroping van ons kusbronne een van die hoofredes was hoekom die vier korvette bekom is nie," het Nel bygevoeg.
Volgens kapt. Robert Higgs, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Vloot, bied die vloot in samewerking met ander departemente ondersteuning vir die beskerming van die land se seebronne wanneer en waar nodig. "In die korvette se geval moet mense in gedagte hou dat die skepe nog nie klaar gebou is nie. Hoewel die eerste een hier is, moet dit nog met met radar- en wapenstelsels toegerus word," het hy gesê.
Volgens hom gaan dit twee jaar duur om die SAS Amatola gereed te kry vir seepatrollies en sal die korvet se eerste toetse ter see volgende jaar in Oktober begin.
Mnr. Markus Burgerner, die Wildlife Monitoring Network se projekoffisier vir die monitering van seelewe in Oos- en Wes-Afrika, het benadruk dat die kwessie van die stroping van mariene bronne van kritieke belang is, maar nie slegs Suid-Afrika se verantwoordelikheid is nie. Hy meen die internasionale gemeenskap het ook 'n rol in dié verband te speel.
Met erkenning aan Malixole Gwatyu en Die Burger.