Publication: Rapport Issued: Date: 2003-11-08 Reporter: Mariechen Waldner

Vele Offisiere Moet Oor Ngcuka Getuig

 

Publication 

Rapport

Date 2003-11-08

Reporter

Mariechen Waldner

Web Link

www.news24.com/Rapport/

 

Die Hefer-kommissie het 'n indrukwekkende peloton huidige en gewese hoofde van die polisie, die weermag en die intelligensiedienste gedagvaar om dokumente en getuienis te lewer om vas te stel of adv. Bulelani Ngcuka, nasionale direkteur van openbare vervolging en hoof van die Skerpioene, 'n apartheidspioen was of nie.

Mnr. John Bacon, sekretaris van die kommissie, sê die kommissie hoop die dagvaardings aan die senior offisiere en oudoffisiere sal dit vir die kommissie moontlik maak om met sy werk voort te gaan. Die ingelligensiedienste bied weerstand teen regter Joost Hefer se pogings om inligting uit hul geheime apartheidsleggers te kry.

Bacon het die afgelope week in Pretoria deurgebring om "beskikbaar" te wees as die veiligheidsdienste van plan sou verander en hom na die dokumente laat kyk, maar hy is met leë hande terug Bloemfontein toe.

Adv. George Bizos, die intelligensiedienste se regsverteenwoordiger, het die kommissie aangeraai om aansoekvorms te voltooi om inligting. Dis nie gedoen nie, sê Bacon, want "ons is 'n kommissie, nie 'n private instelling nie en ons hoef nie vorms te voltooi nie".

Die lys getuies wat gedagvaar is - en 'n lys mense wat nié gedagvaar is nie - is interessante leesstof.

Mnr. January Masilela, sekretaris van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, en maj. Barney Pitso, adjunkhoof van verdedigingsinligting, is gedagvaar, maar geeneen van die eertydse Militêre Intelligensie nie.

Mnr. Vusi Mavimbela, direkteur-generaal van die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA), die primêre bron van "inligting" wat oor Ngcuka laat uitlek is, is gedagvaar, maar sal Hefer na verwagting Woensdag versoek om die dagvaarding te laat vaar omdat dit die NIA in 'n ongemaklike posisie plaas.

Dr. Niel Barnard, destydse hoof van die Nasionale Intelligensiediens (NID), het ook 'n dagvaarding ontvang. Hy besit glo 'n lys van apartheidspioene. Barnard se opvolger, mnr. Mike Louw, wat toesig gehou het oor die vernietiging van NID-dokumente tydens die regeringsoorgang, is nie gedagvaar nie.

Die nasionale polisiehoof, komm. Jackie Selebi, die afdelingshoof Raymond Lala en asst.komm. Mulangi Mphego van die polisie se eenheid vir misdadige intelligensie is ook gedagvaar. Genl. Johan van der Merwe, eertydse veiligheidshoof en die laaste kommissaris van polisie in die apartheidstyd, en mnr. Karl Edwards, wat as veiligheidspolisieman in die Oos-Kaap die hanteerder was van Agent RS452 (me. Vannessa Brereton, en nie Ngcuka soos beweer is nie), se name is ook op die lys.

Van der Merwe se opvolger, mnr. George Fivaz, is nie opgeroep as getuie nie, al het hy verklaar Ngcuka was nie 'n apartheidspioen nie.

Diegene uit die intelligensiedienste wat vandeesweek voor die kommissie moet verskyn, wil nie sê hoe hulle die saak gaan hanteer nie. Barnard wou geen kommentaar lewer nie en Edwards sê hy het nog nie sy dagvaarding gekry nie.

Met erkenning aan Mariechen Waldner en Rapport.