'Bloedhond' net om 2 Redes Terug in die Hof |
Publication | Beeld |
Date |
2005-01-30 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - Die bloedhond se asem was Maandag aansienlik korter as die vorige keer.
Mnr. Johan van der Walt, forensiese ouditeur van KPMG, was Maandag die staat se eerste getuie met die hervatting van die Schabir Shaik-verhoor in die Durbanse hooggeregshof.
Van der Walt het verlede jaar sestien dae in die getuiebank deurgebring, maar was Maandag voor middagete klaar.
Adv. Billy Downer, SC, die hoofaanklaer, het Van der Walt om twee redes teruggeroep. Die eerste was om aan die hof te verduidelik hoeveel geld adj.pres. Jacob Zuma aan mnr. Schabir Shaik, sy finansiële adviseur, skuld as die rente op 'n maandelikse en jaarlikse grondslag bereken word.
Van der Walt het voorheen die rente op Zuma se skuld daagliks bereken. Adv. Francois van Zyl, SC, namens Shaik, het hom daarop gewys dat die meeste banke dit anders doen.
Volgens Van der Walt skuld Zuma vir Shaik in geheel R2,5 miljoen as die rente maandeliks bereken word. Dit kom neer op maandelikse paaiemente van ongeveer R28 000 elk.
As die rente op Zuma se skuld jaarliks bereken word, skuld die adjunkpresident vir sy raadgewer R2,2 miljoen, het Van der Walt getuig.
Downer het Van der Walt verder gevra om te ontleed hoe die Suid-Afrikaanse filiale van die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF hul briefhoofde gebruik.
Die twee ondernemings heet onderskeidelik Thint Holding en Thint Edms. Bpk.
Volgens Van der Walt blyk dit uit die dokumente in sy besit dat die twee ondernemings se briefhoofde oor-en-weer gebruik word - Thint Holding s'n meer as die ander.
"Dit is nie ongewoon vir ondernemings wat hulself as een beskou nie."
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.