'Nkobi Gee 6 j. Geld' |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-29 |
Reporter |
Adriaan Basson, Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban. - Mnr. Schabir Shaik se Nkobi-groep het oor 'n tydperk van ses jaar ongeveer R15 000 per maand aan adj.pres. Jacob Zuma betaal.
Dit is die bevinding van die ouditeursfirma KPMG wat Shaik se geldsake in opdrag van die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) ondersoek het.
Shaik, Zuma se finansiële raadgewer, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog.
Mnr. Johan van der Walt, direkteur van KPMG, het Vrydag getuig oor betalings wat die Nkobi-groep van 1996 tot 2002 aan Zuma gedoen het.
'n Totaal van 238 betalings is in hierdie tydperk gedoen. Volgens Van der Walt kom dit neer op drie betalings per maand van ongeveer R5 377,46 elk.
Van der Walt het beklemtoon dat Nkobi nie die betalings aan Zuma kon bekostig nie en dat dit 'n "fundamentele" impak gehad het op die groep se finansies.
Persoonlik het Shaik glo R115 906,40 aan Zuma betaal en die bron van R7 000 se betalings kon nie vasgestel word nie.
KPMG het bereken die totale bedrag wat Nkobi en/of Shaik aan Zuma betaal het, is R1 269 836,41.
Van der Walt het verder getuig dat Zuma die Nkobi-groep ongeveer R3 796 miljoen skuld as al die "lenings" aan hom, die rente daarop teen die relevante rentekoerse en geld wat betaal is aan Zuma se Nkandla-woning in berekening gebring word.
Zuma het glo tot dusver nog geen terugbetalings aan Nkobi gedoen nie.
Van der Walt het bereken dat die rente op Zuma se "lenings" van Nkobi daagliks bykans R790 beloop.
Volgens hom is dit nie binne Zuma se vermoëns (hy het in September 2002 R30 000 per maand verdien) om sy skuld terug te betaal nie, tensy hy geld uit 'n ander bron kry.
Die meeste betalings van die Nkobi-groep aan Zuma het gegaan aan skoolgeld vir sy kinders, klere, motors, huur en betalings aan sy eggenote.
Op die vraag of KPMG enige moontlike terugbetalings van Zuma aan Nkobi sou mis, het Van der Walt gesê die kans is skraal.
Volgens hom het hulle al die dokumente tot hul beskikking geskandeer en in 'n databasis geberg. Daarna het die ouditeurs spesifieke woordsoektogte gedoen om inligting te vind.
"Ek vermoed die woord 'Zuma' sou genoem gewees het as daar enige betalings was. Dit is nie," het Van der Walt gesê.
Met erkenning aan Adriaan Basson, Dries Liebenberg en die Beeld.