Publication: Beeld Issued: Date: 2005-01-10 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Aan Reg en Verkeerd Gemeet

 

Publication 

Beeld

Date

2005-01-10

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Hoofstuk 1 van die Shaik-sage is saam met die ou jaar agter die rug. Nou begin hoofstuk 2 vroeg in die nuwe jaar. Adriaan Basson bied 'n terug- en voorskou.

Dis die hofsaak waarin die raadgewer verhoor, maar die kroonprins gemeet word.

Albei se loopbane kan deur die uitspraak gesink word.

Maar dis ook 'n gewone handelsaak waar albei kante weier om 'n duit (of 'n sent) toe te gee. 'n Gewone, maar 'n baie taai handelsaak.

Die land se aandag was verlede jaar nege weke lank gerig op die Durbanse hooggeregshof waar die flambojante sakeman mnr. Schabir Shaik, finansiële raadgewer van adj.pres. Jacob Zuma, teregstaan op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Aan die einde van die jaar se hofverrigtinge was al die betrokkenes - die beskuldigde, advokate, prokureurs en joernaliste - dit eens dat "halftyd" nie gouer kon aangebreek het nie.

Nege weke is 'n láng tyd vir 'n handelsaak, is gesê.

Die staat het nog nie sy saak gesluit nie, maar daar word verwag dat slegs vier of vyf getuies vanjaar geroep sal word voordat Shaik se regspan sy getuies aan die hof voor kan stel.

Ingeligtes bespiegel dat Shaik self sal moet getuig óf vir adj.pres. Jacob Zuma as getuie roep om 'n verweer te stel wat die staat opdraande kan gee.

Dan sluk hy 'n pilletjie

Durban is 'n warm plek en veral Shaik het in die laaste week van die hofsaak verlede jaar gelyk of hy die druk van die verhoor (én die weer) begin voel.

Voor hom in die hof het twee botteltjies pille gestaan waarvan hy nou en dan met water afgesluk het. As 'n tydverdryf het hy foto's van almal in die hof met sy nuwe selfoon geneem.

"Want," het hy gesê, "ná hierdie hofsaak volg die Neurenberg-verhoor."

Vanjaar is dit presies 60 jaar ná die begin van die opspraakwekkende Neurenberg-verhoor in Duitsland waar Nazi-oorlogmisdadigers van die Tweede Wêreldoorlog weens hul vergrype verhoor en gestraf is.

Impliseer Shaik dat hy die slagoffer van 'n gruweldaad deur die staat en die media is, wonder 'n mens.

Die staat se getuies het Shaik uitgebeeld as 'n ongeduldige, aggressiewe geldsoeker wat sy "politieke konnektiwiteit" met veral Zuma gebruik het om kontrakte en aansien te bekom.

Die staat het oorspronklik 105 mense op sy getuielys gehad, maar (voorlopig) geëindig met net 'n bietjie meer as 30.

Onder hulle was sleutelgetuies soos mnr. Johan van der Walt, forensiese ouditeur van KPMG wat Shaik se geldsake ondersoek het; me. Sue Delique, voormalige sekretaresse van Thomson-CSF (Thint) wat die berugte gekodeerde faks getik het; en prof. John Lennon van Skotland wat getuig het hoe Zuma sy invloed gebruik het om Shaik se belange te bevorder.

Dan was daar ook mev. Celia Bester, 'n oudrekenmeester by Shaik se Nkobi-groep, wat getuig het dat Shaik sy rug op die armes gekeer het en net homself en "sekere ministers" verryk.

Die verhoor het ook sy skoot "glansgetuies" gehad: Me. Patricia de Lille, OD-leier, het ná haar getuienis op die hoftrappies verklaar dit was 'n "oorwinning vir die De Lille-dossier" en dat vele vervolgings nog daaruit sal voortspruit.

Oudregter Willem Heath was nóg meer prontuit: "Kernaspekte (van die wapentransaksie) is nie ondersoek nie. Groot dele het nooit vorendag gekom nie. Daar is baie dinge waarvan ons nooit sal weet nie."

Die fris manne met die brille

Maar dit was veral die "gewone" getuies soos mnre. Abdool Mangerah, 'n struggle-veteraan, en Jabu Ngcobo, voorsitter van die Workers' College wat hom beywer om geld vir vakbondlede in te samel, wat Shaik op sy ongemaklikste laat lyk het.

Mangerah, 'n sakeman van KwaDukuza (Stanger), het geld aan Zuma geleen wat uiteindelik ná sewe jaar aan hom deur Shaik terugbetaal is. Dit was nadat van Shaik se tjeks geweier is en Mangerah 'n prokureur moes betaal om in te gryp.

Ngcobo was op sy beurt 'n direkteur van Nkobi Holdings sonder dat hy daarvan geweet het. Sy organisasie het na bewering nie 'n sent gekry uit die 10%-aandeelhouding in Nkobi Holdings wat aan hulle gegee is nie.

Sy énigste bydrae tot Shaik se groep was 'n foto van hom in die glansbrosjure.

Shaik, 'n getroude man, is by die hof ondersteun deur sy broers. Geen vrou van die Shaik-familie was tot nog toe by die hof nie.

Die res van sy ondersteuningsbasis is twee frisgeboude lyfwagte met sonbrille en 'n aantreklike jong vrou, glo sy persoonlike assistent, wat help dra het aan die lywige stel hoflêers.

Op 31 Januarie sal die Shaik-span terug wees met hul blinkswart BMW 7-reeksmotors.

Só ook adv. Billy Downer, SC, en sy adjudante van die staat - want dis wanneer hoofstuk 2 van die Shaik-saga begin.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.