Absa-Getuie in Shaik-Saak Verwerp |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-11-19 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban - Die staat het gister vir 'n reuse-opskudding in die Shaik-verhoor gesorg deur te vra dat die getuienis van een van sy eie getuies verwerp word.
Adv. Billy Downer SC, namens die staat, het regter Hilary Squires in 'n ongewone stap versoek om mev. Brenda Madgwick se getuienis ingevolge art. 190 van die strafproseswet as "teenstrydig" te verklaar. Madgwick is 'n voormalige senior Absa-werknemer.
Mnr. Schabir Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Madgwick het gister getuig sy het Shaik en Zuma in 2001 afsonderlik "genooi" om kliënte van Absa se private bank te word. Dít terwyl sy in 'n verklaring aan die Skerpioene gesê het Shaik het voorgestel dat sy ook vir Zuma nooi.
Voor die versoek toegestaan is om haar getuienis as teenstrydig te verklaar, het Squires vir Downer gevra of hy bewus is daarvan dat "geen deel" van Madgwick se getuienis dus voortaan gebruik mag word nie, waarop Downer ja gesê het.
Die staat wou haar getuienis gebruik om te illustreer hoe Shaik Zuma se naam gebruik het om sy sakebelange te versterk.
Volgens Madgwick het mnr. Nallie Bosman, voormalige uitvoerende hoof van Absa, Zuma as 'n "strategiese kliënt" geïdentifiseer en was Zuma én Shaik se name op 'n lys van "invloedryke individue" wat Absa wou werf.
Mnr. John Dwyer, 'n voormalige bestuurder by Absa se private bank in Durban, het getuig Absa wou nét vir Zuma as 'n kliënt van hul private bank gehad het, maar Zuma en Shaik het as 'n "pakket" gekom.
Drie Absa-werknemers is gister deur die staat as getuies geroep. Hul getuienis het 'n algemene beeld geskep dat Absa, ten spyte van Zuma se benarde finansiële posisie, hom as 'n "strategiese, invloedryke" kliënt behou het.
In 'n goedkeuringsbrief waarluidens Zuma op 23 Mei 2001 as 'n private kliënt aanvaar word, het Madgwick geskryf: "Mnr. Zuma, as adjunkpresident van Suid-Afrika, is 'n invloedryke persoon wat sy ondersteuning van Absa vermeld het - ons benodig swart kliënte."
Volgens Madgwick het sy ten spyte van teenstand van Absa se krediteure-afdeling vir Zuma as 'n kliënt van die private bank gewerf. Dwyer het getuig hy was huiwerig om Zuma te aanvaar, maar daar was ten minste 'n belofte van R5 miljoen wat Zuma aan pensioengeld sou kry. Die bank het glo "aangeneem" Zuma gaan in 2004 uit die politiek tree.
Zuma en Shaik se bankrekenings is later teruggeplaas na Absa se besigheidsentrum. Volgens adv. Francois van Zyl SC, namens Shaik, het Shaik daarvoor gevra omdat hy nie met sy werksrekenaar toegang tot die private bank kon kry nie.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.