Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-11 Reporter: JanJan Joubert

Soos 'n Adellike en Onpeilbaar Soos Goeie Poker-Speler

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-11

Reporter

Jan-Jan Joubert

Web Link

www.news24.com

 

Durban - Adv. Kessie Naidu, SC, ster van die Hefer-kommissie, het Maandag 'n laaste encore, en 'n gepaste herinnering aan die drama van Bloemfontein, verskaf by die aanvang van die verwante verhoor van mnr. Schabir Shaik in die Durbanse hooggeregshof.

Maar al wat die gevreesde gryskop gesê het, was dat sy verskyning namens die Franse wapenmaatskappy Thint kort sou wees. Dit was, want die aanklagte teen Thint is teruggetrek. Toe kon die rolspelers in die nuwe drama na vore tree.

Regter Hillary Squires is 'n lang man met 'n adellike, byna as ketiese voorkoms, wat in sy rooi mantel iets van die kwesbare intellektuele verbetenheid van die karakter Die Kardinaal in Leipoldt se drama Die heks versinnebeeld.

Hy praat sag en is geneig om sy woorde in te sluk as die belangrikste deel van sy sin verby is, maar sy vrae sny snel deur die regspanne se woordryke argumente na die kern van die saak. Hy luister so onpeilbaar soos 'n goeie poker-speler en het die hele oggend net een keer sy kop geknik - om te wys hy begryp 'n punt.

Nogtans is daar reeds tekens van 'n skelm humorsin. Op 'n vraag van Shaik se regspan of die beskuldigde verskoon kan word terwyl e.tv se aansoek om die verrigtinge uit te saai voor die hof dien, het Squires gesê: "Ja, maar net tot Woensdag!"

En toe adv. Gilbert Marcus, SC, met verwysing na die nie-teenwoordigheid van adj.pres. Jacob Zuma opmerk die saak kan die landsregering raak, het Squires ewe droogweg laat hoor: "Is die implikasies van die saak dan soveel wyer as die saak?"

Squires word bygestaan deur twee assessore: landdros J.I. Jacobs, 'n afgetrede streeklanddros, en adv. A.B. Mahomed, SC, lid van die Durbanse balie.

Jacobs, wat aan Squires se regterkant sit, het 'n sierlike grys snor. Hy luister met sy mond effe oop en tol sy pen deurgaans stadig tussen sy vingers. Hy maak min aantekeninge.

Mahomed het 'n netjiese bokbaard. Hy sit kiertsregop en maak heeltyd aantekeninge.

Hofsaal A is die ene donker hout en baie oud. Die enigste versiering is 'n ronde muurhorlosie wat geruisloos tik en 'n televisiestel.

Agter die drie manne op die regbank pryk die ou Suid-Afrikaanse ampswapen as onwaarskynlike herinnering van die ou bedeling, te midde van 'n hofsaak wat ongemaklik bestek moet opneem van die nuwe.

Met erkenning aan Jan-Jan Joubert en die Beeld.