Shaik 'het nie Geweet Lening is Afgeskryf' |
Publication | Die Burger |
Date | 2005-03-03 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban - Mnr. Schabir Shaik het gister erken hy het die jaarlikse finansiële state van die maatskappye in sy Nkobi-groep onderteken sonder om te lees wat daarin staan.
"Daar het so 20 tot 25 pakke finansiële state voor my gelê. Ek het maar net deur almal geblaai en hulle onderteken," het Shaik in die Durbanse hooggeregshof in kruisverhoor getuig.
Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Adv. Billy Downer SC, hoofaanklaer, het Shaik vir die grootste deel van die dag ondervra oor die afskryf van R1,2 miljoen van die Nkobi-groep in 1999 wat volgens die staat 'n "fundamentele fout" was en neerkom op bedrog.
Shaik erken sy leningsrekening, waaruit R290 000 aan Zuma betaal is, is foutiewelik as "ontwikkelingskoste" afgeskryf, maar blameer sy groep se rekenmeesters en ouditeurs daarvoor.
Uiteindelik het Downer Shaik daarvan beskuldig dat dit "totaal en al absurd" is van hom om voor te gee dat hy nie bewus was van dié afskrywing nie.
Die hof het vroeër getuienis aangehoor van mnr. Ahmed Parouk, ouditeur van David, Strachen & Taylor, dat Shaik die opdrag gegee het om sy leningsrekening af te skryf. Shaik ontken dit.
Gemoedere het gister opgevlam toe Downer Shaik uitgevra het oor 'n vergadering waartydens die "fundamentele fout" bespreek is. Volgens Shaik was hy nie daar nie omdat hy nie rekeningkunde verstaan nie.
Op Downer se vraag wie die vergadering aangevra het, het Shaik gesê dit is 'n "simpel" vraag.
"Weerhou jou asseblief van sulke uitsprake en antwoord die vraag," het Downer gesê, waarop Shaik geantwoord het: "Ek is geregtig op my opinie en dit is dat daardie vraag simpel is."
Regter Hilary Squires het Shaik berispe en gesê dat hy na Downer se vrae moet luister en hom moet weerhou van beledigende opmerkings.
Oomblikke later het Shaik hom wéér vererg en gesê Downer "moet na my luister" toe die hoofaanklaer 'n vraag herhaal het. "Luister asseblief na hom. Dit is een manier om die waarheid vas te stel - om vrae te herhaal," het Squires ingegryp.
Op Downer se vrae waarom die Nkobi-groep se ouditeurs of finansiële bestuurder nie afgedank is nadat die afskryf-fout reeds in 2001 ontdek is nie, het Shaik gesê die verhoor hou hom nou besig, maar dat koppe hierna kan rol.
"Ek glo jy is onskuldig totdat jy skuldig bevind is," het Shaik gesê.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.