Kontrakte Kom ná 'Agteraf-Kontak' |
Publication | Beeld |
Date |
2005-04-25 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Die staat het bewys dat 'n informele proses in Suid-Afrika bestaan vir wapenhandelaars om agteraf kontak met invloedryke regeringsamptenare te maak en só kontrakte van miljoene rande los te slaan.
Só het adv. Billy Downer, SC, hoofaanklaer in die Schabir Shaik-verhoor, gister aangevoer op die eerste dag van slotbetoog.
Shaik is adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur. Hy staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Volgens Downer loop die informele proses parallel met die formele een en is dit bevestig deur die getuienis van mnr. Pierre Moynot, uitvoerende hoof van Thomson-CSF se Suid-Afrikaanse filiaal, Thint.
Moynot het vir die verdediging getuig dat wapenhandelaars kontak met politici moet maak om te weet wat die magshebbers dink.
Volgens Downer is Zuma só 'n politikus. Benewens die regering se omstrede wapentransaksie het hy Shaik met ander kon trakte gehelp.
"Die staat het suksesvol bewys dat Shaik Zuma se hulp só gebruik het om private voordeel te trek uit (ander) projekte, soos die Punt-ontwikkeling en 'n ekotoerismeskool," het Downer gesê.
In antwoord op Shaik se getuienis dat hy Zuma bygestaan het om sy verpligte gelde aan die ANC te betaal, het Downer gesê Shaik het dit bloot gedoen om Zuma se integriteit "en dus sy posisie" in die ANC te behou. Gevolglik was Zuma steeds in posisies waaruit hy Shaik en sy maatskappye kon help en Shaik van die nodige verbintenisse kon verskaf.
"As Shaik en sy Nkobi-groep Zuma nie meer (geldelik) bygestaan het nie, sou 'n belangrike skakel in sy ketting van verbintenisse vir hom en sy groep verlore gewees het en sou Zuma nie meer sy belange kon bevorder nie," het Downer gesê.
Downer het gister veral gekonsentreer op die eerste korrupsieklag: dat Shaik betalings van R1,2 miljoen deur die jare aan of namens Zuma gedoen het om die adjunkpresident se invloed te "koop".
Hy het hul verhouding met Maleisië se Bumiputera-model vergelyk waarvolgens regeringsamptenare aandele in ondernemings besit wat hulle dan help om kontrakte te kry.
"Die punt is dat Shaik 'n vorm van vergoeding vir sy bydraes en betalings (aan Zuma) verwag het," het Downer gesê.
Hy het ook aangevoer dat die betalings aan Zuma "nie behoorlike lenings was nie" en instemmend geantwoord toe regter Hilary Squires gevra het of die staat die berugte "leningsooreenkoms" tussen Zuma en Shaik as 'n klug beskou.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.